Friday, October 15, 2021

Ons vier Vita du Preez

 

 

 

Vita du Preez het reeds in 1996 gedebuteer terwyl sy voltyds as argivaris by die WNNR gewerk het. Daarna het verskeie titels uit haar pen die lig gesien. ’n Man vir Mia was ’n finalis vir die LAPA-liefdesverhaaltoekenning in 2005/2006. Haar reeks oor die Vinkel- & Koljandervroue is baie gewild, want weer put Vita haar inspirasie uit die alledaagse en
uit realiteitstelevisie. Haar karakters is gewone mense met wie moderne
Afrikaanse vroue van alle ouderdomme kan identifiseer.

 

KLASKAMER
Emma Louw kry die geleentheid om as kinderoppasser op 'n Karooplaas te gaan werk vir Daniel Swart. Sy is pas uit ’n langtermynverhouding en is lus vir ’n nuwe uitdaging. Sy raak gou lief vir die seuntjie, en is ook nie onaangeraak deur Daniel se teenwoordigheid nie. Alles maak egter nie vir haar sin nie. Steek sy dalk haar kop in 'n byekorf? Hoekom is Daniel so geheimsinnig oor sy verlede en oor die letsel op sy bors? Op 'n dag kom Emma op 'n geheime kamer af. Dinge oor die geheimsinnige Daniel begin vir Emma duideliker word. Sal sy die binnekant van die klaskamer aandurf? Indien wel, sal sy lewendig anderkant uitkom? 

Die opvolgverhaal, Skoolgeld, is hier beskikbaar. 

EGGO'S
Wanneer Bea Klinge as jong boervrou op Leliepan aan die soom van die Namib aankom, glo sy dat sy hier vir haar, Kurt en hul kinders ’n oase van liefde sal kan skep. Ná ’n skokontdekking meer as vier dekades later kry Bea ’n miniberoerte en beland in ’n koma in die hospitaal. Haar herstel bring Bea voor nuwe keuses te staan. Sy besef sy het haar vier dogters elkeen op ’n manier gefaal deur by Kurt te staan. Moet sy oop kaarte met hulle speel oor die donker geheim wat haar vasgevang gehou het in ’n liefdelose huwelik met ’n man wat haar soos ’n onderdaan behandel? Bowenal moet Bea besluit of sy die kans op geluk waarop sy destyds haar rug gekeer het, gaan aangryp en vir een keer in haar lewe gaan doen wat reg is vir haar en nie vir ander nie.

 

 

WILDE KLAWER
Wilde klawer gaan oor McKenna Wilde wat ’n spesiale gawe het om deur aanraking te "sien". Vir hierdie ekstrovert wat verkies om eerder op die ligter sy van die lewe te fokus, is dit eerder ’n vloek as ’n seën. ’n Brief van ’n onbekende vrou lei haar terug na haar geboorteland, Noord-Ierland. Hier word sy gekonfronteer met haar ma se donker verlede en die Wildes se betrokkenheid by die IRL. Maar dit is ook ’n reis na selfontdekking. McKenna leer sy kan nie van haarself en haar herkoms vlug nie. In haar soeke na selfaanvaarding word dit vir haar duidelik ’n vrou moet eers ’n man met haar hart kan vertrou voor sy hom met haar lyf vertrou.

 

 

Volg ons op sosiale media

Facebook

Twitter

Instagram

 

No comments:

Post a Comment