Elke jaar is daar "hierdie" boek wat my laat hoendervleis kry sodra ek daaroor begin praat of dink. Hierdie jaar het daar meer dinge skeef uitgedraai as waarvoor ons ooit kon voorsiening maak. Ek laat myself deesdae deur al meer dinge leer van wie ek is. 2020 In sy geheel het my nogal op 'n leerskool trippie gesit. Ek weet 'n Ballade vir Nkunzi is nie 'n nuwe boek nie, maar vir my sal dit 'n ewigheidstreffer bly. Daar is nie genoeg pryse wat hierdie werk kan beloon nie. As jy gedink het jou lewe suck, het Bennie 'n storie vir jou. Jou Takealot bestelling wat laat is, kan maar wag. Niemand vra om gebore te word nie, alhoewel ek glo dat ons op een of ander stadium wel vra, hoekom. 'n Outjie wat dit mag vra is Bennie. Hy doen dit egter nie. Hy doen wat hy moet doen, dag vir dag. Daar is nie politiek, ekonomie of welsyn in hierdie gesin se verwysingsraamwerk nie. Hulle is het minder as min. Nikser as niks. Nogtans is daar elke dag motivering om te lewe. Drien wat in die gatkant van 'n huwelik met Bernard Welman is, doen haar bes om die sewe kinders wat hulle het, groot te kry sonder kos, klere of seep. Twee weggooi matrasse is die klomp se slaapplek. Bennie moet maar verantwoordelikheid vat vir die lot, of hy wil of nie. Die storie is nie 'n tranetrekker of 'n versuikerde welsynstorie nie. Dit is net wat dit is. Die lewe wat geleef moet word, come hell or high water. Daar is nie tyd vir filosofies raak, of redeneer nie. 'n Man moet oorleef. Tussen verwaarlosing en mishandeling, kry hierdie merkwaardige kind dit reg om kind te wees. Dit wat hy het is vir hom genoeg om voort te gaan. Nie omdat hy nie van beter weet nie, maar omdat hy, hy is. Sy ma is sy ma, al is sy Drien die stukkende, hardegat vrou. Sy pa, nou ja, is sy pa. In sy afwesigheid meer werd as wanneer hy by die huis is. Die familie is op die oog af 'n gemors. Maar eintlik weet ons niks van menswees af nie. Ons sit in ons meer as gemiddelde huise en oordeel asof ons God is. Al dink jy net, jy verstaan iets van ander se lewe, gaan ek jou onomwonde verkeerd kan bewys. Ek begin daarom eerder by myself, aangesien hier nog heelwat te doen is voordat ek 'n enkele vinger kan wys. 2020 Se verander-jou-lewe-of-sarrap boek is ongetwyfeld 'n Ballade vir Nkunzi. As jy 'n goeie skoot humor in jou het sal jy jou verlekker in die titel van hierdie boek. 'n BALlade vir Nkunzi
Ben Viljoen, wel gedaan!!!
“Weet jy wat is die heel beste van flat rock bottom wees? As jy eers dáár is, kan alles en enigiets jou droom wees.”
No comments:
Post a Comment