Aankoms en vertrek deur Pat Stamatélos
Bailey Kellerman het Suid-Afrika finaal verlaat toe Adam, haar
jeugliefde, nie tot trou kon kom nie. In London hierna was daar ’n
huwelik met ’n Fransman, maar ook hý het haar in die steek gelaat.
Wanneer ’n tragedie in Johannesburg die lewens van Bailey se ouers eis,
dring haar broer aan dat sy huis toe kom.
|
|
|
Maande ná die begrafnis is Bailey
eindelik terug in Suid-Afrika op soek na antwoorde rakende haar ouers
se dood – antwoorde moontlik opgesluit in haar pa se kluis waarvan die
sleutel skoonveld is.
In Aankoms en vertrek blaas bobaasstorieverteller Pat
Stamatélos met haar gebruiklike humor en ligte aanslag asem in ’n
handvol karakters wie se lewens deur omstandighede op die spits gedryf
word.
|
|
|
Lugkasteel deur Annelie Botes
In Sabbatsreis vertel Annelie Botes hoe sy in 2004
blindelings op ’n vliegtuig geklim het om in Engeland ’n ouma te gaan
soek wat sy kon oppas. Om haar skuld te betaal. Vir ’n hellejaar vol
hemelsheid word sy Granny se hoeder.
Maar genoeg is selde genoeg. Kwalik ses maande nadat sy teruggekom het
Baai toe, vlieg sy wéér Engeland toe. Dié keer as die goewernante van
vier onhebbelike bloubloed-seuntjies.
|
|
|
En, soos Aspoestertjie, bevind sy haar
in ’n grillerige ou kasteelhuis, en sy is net ’n kasteelbediende. Sy ly
honger; sy verkluim. Sy moet haar karige leefruimte deel met die
wandelende gees van ’n vrou wat lankal oorlede is, maar steeds snags in
die kasteelgange rondloop.
Tien jaar later sit sy by haar ou bruin lessenaar en rol die kamera
terug na daardie tyd. Bekyk die glasskoentjies wat elke mens langs die
pad verloor. Lugkastele wat tuimel. Alles net swaanveertjies in die
winterwind. Tog, ondanks ons stukkende vlerke, leer ons vlieg. Hoër en
verder as wat ons ooit kon droom.
|
|
|
Bloedsuier deur Leon van Nierop
Toe Maryke, ’n jong hipnoterapeut, ’n kwak wat gehore kamma hipnotiseer
probeer ontmasker, skud iets in haar onderbewuste los. Het dit te doen
met die inbraak tydens haar matriekjaar? Wat is dit wat sy vergeet het?
Lukas probeer haar help. Hy is haar steunpilaar en mentor, en die man
op wie sy verlief is. Ook hý moet veg om ’n greep op sy verlede te kry.
|
|
|
Maar die bedreiging is nie net in
Maryke se kop nie: Vreemde briewe en onheilspellende geskenke maak dit
duidelik dat iemand haar dophou. Iemand wat enigiets sal doen – miskien
selfs sal moor – om seker te maak sy onthou.
|
|
|
Kainsmerk deur Annelie Botes
Annelie Botes het haarself oor en oor bewys as een van die voorste
storievertellers in Afrikaans. Die korpus boeke wat uit haar pen verskyn
het, staan onweerlegbaar as getuienis van ’n uitsonderlike talent. Deur
die jare is ’n magdom tydskrifverhale, ’n genre wat dikwels
verkeerdelik onderskat word, in tydskrifte soos Vrouekeur, Rooi Rose en
Huisgenoot opgeneem.
|
|
|
Kainsmerk bevat ’n keur
van dié verhale wat deur die skrywer self uitgesoek is. Botes se
karakters dra dikwels ’n teken van vervloeking wat hulle broos laat, en
wat hulle vir die wêreld wil verberg. As spesiale bonus is die
immergewilde Duiwelsbrood, wat geruime tyd
reeds uit druk is, ook in Kainsmerk opgeneem. Annelie
Botes se aanhangers sal saamstem: Hierdie is vertelkuns op sy beste.
|
|
|
Jagter deur Bettina Wyngaard
Klippe, messe en pyle uit ’n kruisboog: Die vreemste – en wreedste
–misdaadtoneel in Kaptein Nicci de Wee se loopbaan Dan moet sy en haar
nuwe taakspan boonop bontstaan om saam met die nimlike Blackie Swart ’n
internasionale insident te voorkom. Ook op haar lessenaar: die dood van
twee jong meisies. En die angswekkende vermoede dat al hierdie sake met
mekaar verband hou.
|
|
|
Met soveel kinkels in die kabel soos
dooies in die staatslykhuis, moet Nicci-hulle alles tot hul beskikking
inspan om ’n nuwe hel af te weer: van ’n rekenaarfundi, tot stiletto’s
en selfs ’n paar petrolbomme. Gou kom Nicci agter die monsters wat haar
lewe en dié van haar kollegas bedreig, is gevaarliker as Ramoth,
vlymskerp polisiefotograaf Stella Jansen se mak Komododraak.
In Jagter, haar derde Nicci de Wee-riller, draai
Bettina Wyngaard al die krane oop.
|
|
|
|
No comments:
Post a Comment