Thursday, May 13, 2021

Die gewildste Afrikaanse boeke in die land

 Boeke

WEN 1 van 2 Exclusive Books-geskenkbewyse ter waarde van R500.00

– teken in op ons nuusbrief om in aanmerking te kom! Klik hier.

Sedert ons vorige boeklysie in Desember is heelwat nuwe boeke bekendgestel … en pronk baie daarvan as topverkopers vir die eerste kwartaal van 2021. Die verskeidenheid, wat alles van fiksie, geld, tot biografieë insluit, beloof om iets vir elke leesvoorkeur te bied. Maar, wat is die topboeke? Kyk saam!

1. n Baie Lang Brief aan my Dogter
Exclusive books Afrikaanse Boeke

‘n Baie Lang Brief aan my Dogter

Marita van der Vyver

’n Baie lang brief aan my dogter is Marita van der Vyver, een van Afrikaans se mees geliefde skrywers, se ontroerende jeugmemoir. Hierin vertel ’n Afrikaanse ma vir haar Franse dogter van haar grootwordjare in die sestigs en sewentigs, in die bloeityd van apartheid.

Maar dit is ook ’n storie oor taal en boeke en die wonderwerk van woorde. En hoe dit gekom het dat ’n skaam boekwurm uit ’n Afrikaanse middelklasfamilie, wat slegs ’n geslag vroeër nog werkersklas was, ’n skrywer geword het.

Dis ’n boek wat die meeste mense nie sal kan neersit nie omdat dit ’n speurtog is deur ’n skrywer se beginjare en ’n liefdesbrief is aan ’n dogter en aan ’n taal en aan ’n land. ’n Ma se poging om sin te maak van hierdie onverskillige en wrede wêreld waarin sy haar nou begewe.

2. Dink soos ‘n Miljardêr
Exclusive books Afrikaanse Boeke

Dink soos ‘n Miljardêr – Geheime van ‘n Suksesvolle Suid-Afrikaanse entrepreneur

Daniel Strauss

Wat onderskei die rykes van ‘gewone mense’? Hulle dink anders. In Dink soos ‘n miljardêr verduidelik Daniel Strauss, die Strauss in die beleggingsonderneming Stocks & Strauss, wat dit beteken om soos ‘n miljardêr te dink en deel sy geheime vir sukses, soos hoe om toegang tot kapitaal te verkry, die regte mense te vind om jou te help om jou doelwitte te bereik en hoe om jou gedagtes van selfopgelegde beperkings te bevry sodat jy ook soos ‘n miljardêr kan dink – en uiteindelik self een kan word.

3. Hartedief
Exclusive books Afrikaanse Boeke

Hartedief

Rudie van Rensburg

’n Reeksmoordenaar jag by stormweer, en Rooi en Kassie moet hom vastrek. Die Hartedief kom met moord weg, en dan is Kassie se volle aandag ook nie eintlik by die saak nie, want hy is smoorverlief op ’n aanvallige medeseëlversamelaar.

Vlerksleep is nie vir sissies nie. Om sake vir hom en Rooi te vererger, word hul baas daarvan verdink dat sy hul ondersoek in die wiele ry, en Kassie moet haar onskuld bewys. Intussen word Kaapse vroue vermoor wanneer daar onweer broei.

4. Donkerdrif

Donkerdrif

Deon Meyer

‘n Koelbloedige moord by die Kaapse Waterfront. Wat dalk verband hou met geheimsinnige briewe wat geskorste luitenante Bennie Griessel en Vaughn Cupido ontvang het. Maar eers moet Bennie-hulle op Stellenbosch soek na ‘n verdwene student, en die spoor vat van die eiendomsagent wat die kooptransaksie van Donkerdrif, korporatiewe swendelaar Jasper Boonstra se peperduur wynplaas, behartig het. Stadigaan besef die speurders al hul ondersoeke het ‘n gemene deler: die donkerste drif, gierigheid.

5. Onder een dak
Afrikaanse Boeke

Onder een dak

Dana Snyman

Die ikoniese en geliefde skrywer Dana Snyman deel sy 100 gunstelingstories in ’n buksie van ’n bundel. Die stories strek van ou familiestories, reisverhale uit Dana se Weg!-dae en ware lewensdrama uit sy Huisgenoot-dae, tot intieme verhale uit sy meer onlangse werk. Twintig nuwe stories gaan oor rugby en oor die huidige pandemie, gesien op Dana se unieke manier.

6. Dik Dun Thick Thin: Stories
Afrikaanse Boeke

Dik Dun Thick Thin: Stories

Nataniël

‘n Splinternuwe, skitterende versameling kortverhale deur Nataniël. Twintig in Afrikaans en agt in Engels. Skreeusnaaks, aangrypend, wys, onvoorspelbaar en – soos altyd – hoogs vermaaklik. Soos gewoonlik delf hy goud uit sy kinderjare  – oor sy ouers, sy ouma – maar daar is ook fantastiese en fantasmagoriese verhale oor sy lewe as sanger op plattelandse dorpies, oor ‘n vreemdeling wat hom een aand in sy huis help om sy vrese te besweer, en hoe ‘n mens jou eerste reus oorwin . . .

7. Skepsel

Skepsel

Willem Anker

Aan die Kaapse Weskus versorg Rebecca Maas haar sterwende pa in ‘n tegnologies gevorderde slimhuis, ‘n huis wat praat in ‘n halfbekende stem. Op die horison, ‘n olietenkskip. ‘n Posthuman biohacker trou met die enorme skip, en maak kuns oor die wittebroodsreis. En in die yswildernis van Svalbard verdwyn ‘n navorser se minnaar spoorloos. Hulle is daar om geheimsinnige, spierwit items te ondersoek – dalk beendere, maar dan beendere wat vertak en ineensmelt soos geen bekende skepsel s’n nie.

8. Die Heelal op my Tong
Boeke

Die Heelal op my Tong

Anoeschka von Meck

Elkeen het ’n heelal in hul mond. Keuses wat jou wentelbaan van uur tot uur bepaal.

Willemien is keelvol vir dik wees. En bang wees vir kaas en vir inkopies doen. Hoe kan mens so verwyderd van jouself wees dat jy van buite liederlik obees is, maar in jou kop sing jy vry en kaal op ’n krans? Sy wonder waar kom die rondomskrik van haar lyf vandaan terwyl sy en haar sus in die vretende hitte van die Richtersveld ’n kluis in ’n winkeltrollie sleep. Willemien is vasbeslote om dit oor ’n afgrond te boender.

Van Kaapstad na San Francisco en ’n dwelmdieet in Sri Lanka – met ontvoerings, partytjies, ’n seksles in Hong Kong se hawe en ’n onvermydelike ontmoeting met ’n onbekende man – tref Anoeschka von Meck se nuutste roman jou soos ’n reusegolf en spoel sy die verhoudings oop wat van ons soekende, spirituele wesens maak.

9. Vry Vrou: Gedigte van Antjie Krog
Exclusive books Afrikaanse Boeke

Vry Vrou: Gedigte van Antjie Krog

Antjie Krog

Krog is ‘n internasionaal gerekende digter, maar ook plaaslik geliefd. Vyftig jaar na haar opspraakwekkende debuut, Dogter van Jefta, verskyn daar ‘n splinternuwe versameling waarin meer as honderd gedigte uit haar elf bundels saampraat. Verse oor eerste liefde, oor moederskap, oor die landskap, en oor onreg; oplaas ook oor ouer word. ‘n Vry vrou bevat gunstelinge uit Krog se oeuvre, maar ook minder bekende dog ewe verrassende verse. Saamgestel deur Karen de Wet, kenner van Krog se oeuvre.

10. Jou Geldsake: Hou Kop in Onseker Tye
Exclusive books Afrikaanse Boeke

Jou Geldsake: Hou Kop in Onseker Tye

Theo Vorster

Covid-19 het die wêreldekonomie soos ‘n atoombom getref. Die markte het oornag getuimel en die pandemie het groot skade aan die geldsake van individue en maatskappye aangerig. Wat nou? Hoe hou ek kop in sulke onseker tye? In Jou geldsake gee Theo Vorster riglyne oor hoe om rasionele langtermynbesluite in moeilike omstandighede te neem. Krisistye laat baie mense moedeloos en vuisvoos, maar dit hoef nie. Met die regte kennis kan jy en jou gesin moeilike tye oorleef en finansieel aanhou floreer.

11. Maggie: My Lewe in die Kamp
Afrikaanse boeke

Maggie: My Lewe in die Kamp

Maggie Jooste

Margaretha (Maggie) Jooste was net 13 jaar oud toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek en haar lewe ingrypend verander. Na maande in huisarres word sy en haar gesin na ‘n konsentrasiekamp in Natal gestuur. Hier ervaar hulle honger, onsekerheid en verlies, maar ook soms – op ‘n verrassende wyse – die goedhartigheid van Britse soldate. Hierdie baie persoonlike vertelling, in haar eie woorde, is ‘n verhaal van swaarkry en erge ontbering, maar ook van medemenslikheid en vriendskap oor vyandsgrense heen.

12. Die Versoeking van Thomas Maas
NB Boeke

Die Versoeking van Thomas Maas

Chris Karsten

Ella Neser is terug van haar Karibiese skeepsvaart, en soort van terug in Lou se arms. Haar nuwe opdrag, as private speurder, is ‘n bisarre een. Donna Maas, eggenoot van die sielkundige Thomas Maas, is oortuig haar man het ‘n skelmpie. En dit is Ella se taak om dit te bewys. Die roman begin egter by die einde, waar Ella haar verslag tik. Daar is ‘n moord gepleeg, maar wie is die slagoffer en wie die skurk? ‘n Verbysterende roman deur een van die top- spanningsromanskrywers in Afrikaans.

13. Kanaän
Exclusive Books se Afrikaanse topverkopers

Kanaän

Sophia Kapp

Kan hierdie liefde se prys betaal word? Hulle is pole uit mekaar: Hy is ‘n eenvoudige Afrikanerboer uit die Vrystaat; sy is die gesofistikeerde dogter van ‘n skatryk Engelse sakeman. Hulle moes nooit eers ontmoet het nie, maar op 17 Junie 1944 loop sy in sy arms in, en wanneer haar wêreld om haar in duie stort, bied hy vir haar ‘n uitweg  – ‘n jaar op Kanaän as sy vrou. Dit behoort haar die geleentheid te gee om die stukke op te tel, besluit Catherine, maar kort voor lank besef sy dat sy aan Chrisjan meer het as al haar gesofistikeerde Johannesburgse vriende. Al wat sy nie weet nie, is of sy die verskriklike prys wat hierdie liefde van haar vereis, sal kan betaal.

14. Katriena vertel
Exclusive books Afrikaanse Boeke

Katriena vertel

Riana Scheepers

Katriena is ‘n vrou met ‘n knieg aan haar, en somtyds ook ‘n rug en ‘n elmboog, maar sy is ook ‘n vrou met ‘n hart. ‘n Ruim hart vol deernis met die wêreld: vir bergies en wedevroue en vroue wat alleen die wêreld moet aandurf, maar veral vir die mêrrem van die halwe huis en haar twee onhebbelike seunskinders.

15. 1 Recce: Agter Vyandelike Linies
Afrikaanse boeke

1 Recce: Agter Vyandelike Linies

Alexander Strachan

Daar was hewige vuurgevegte, oorwinnings, maar ook verliese . . . 1 Recce, Agter vyandelike linies, neem die leser tot in die Recces se ‘binnekamer’. In hul eie woorde vertel Recce-operateurs van die lewensgevaarlike operasies wat hulle onder groot geheimhouding in die laat 1970’s in Angola en Rhodesië uitgevoer het.

Die leser sien die operateurs sweet in die vliegtuig of duikboot en beleef die gevaar wanneer hulle in die nagdonker riviere met krokodille trotseer. Die spanning en adrenalien loop hoog wanneer die Recces springstof in ‘n treintonnel diep in vyandelike gebied plaas, of ‘n groot brandstofbergingsplek in ‘n Angolese hawestad in ‘n vlammehel omskep.

Die wat daar was, vertel van die spanning, afwagting, vrees, adrenalien, moegheid, dors en hartseer wat hulle beleef het, maar ook van die humoristiese momente en die vriendskapsbande wat gesmee is.

16. Die Brug: Na die Hel en Terug in Angola
Afrikaanse Boeke

Die Brug: Na die Hel en Terug in Angola

Deon Lamprecht

In vergeelde foto’s van drie dekades gelede staan oopgesigseuns vol bravade voor Ratel-gevegsvoertuie. Hierdie dienspligtiges van 61 Gemeganiseerde Bataljongroep staan aan die begin van hul reis diep in Angola in om vir volk en vaderland te gaan veg.

In ’n bloedige geveg op Valentynsdag 1988 en in die doodsakker by Tumpo sou hul jeugdige onskuld egter sneuwel. In die hitte van die gevegte kom die besef: Nou gaan dit nie oor ideologie nie, maar om oorlewing. Ná die oorlog gaan die lewe voort, maar die vrae en geestelike letsels wyk nie.

In 2018 keer ’n groep van dié ouddienspligtiges terug na Cuito Cuanavale op soek na afsluiting – en om die wrak te vind van die Ratel waarin ’n makker op die laaste dag van die oorlog gesterf het. Die Brug vertel van hul reis van jong man na veteraan en gee ook ’n stem aan die vroue in hul lewe. Dit is ’n verhaal van ontnugtering, maar ook van trotse kameraderie en genesing.

17. Voetstoots

Voetstoots

Annelie Botes

Voetstoots is ‘n bontgejasde keur uit sestien jaar van Annelie se koerantrubrieke. Die temas is so wyd soos die Heer se genade. Rakende aan die torings van Babel wat ons bou. ‘n Kind wat doodgeskok word terwyl hulle jagentjies speel. ‘n Begrafnisbrief uit Holland. ‘n Boer wat sy plaashek vir oulaas sluit. Toentertyd se poskoets en handsentrale. Die boks langspeelplate in die gryse se waenhuis. Die smart om ‘n kind te begrawe. ‘n Glips met bensien in die tamatieslaai. ‘n Sywurmhart wat sy in haar Bybel bêre. Mense sonder ‘n woord van eer. ‘n Eensame oom wie se hondjie op ‘n sypaadjie doodgebyt is. ‘n Lys van moets en moenies vir dames uit 1944. ‘n Boks papsakwyn wat suur geword het. Dis lag, huil, kwaadword, nostalgie, deernis, onbegrip en lewenswette saamgeryg in ‘n kleurvolle lappieskombers. En Annelie is bedrewe met die rygnaald.

18. Erfgeld is Swerfgeld
Afrikaanse boeke

Erfgeld is Swerfgeld

Johannes C Bakkes

Hier word humoristiese vertellings oor sy reise afgewissel met sy pa se wolhaarstories en lewendige geskiedenisvertellings. Hy en sy seun vind aanklank tydens nog ‘n onbesonne reis. Sy liefde vir sy familie is tasbaar. Gerrit Rautenbach noem die manuskrip sy beste skryfwerk nog en blootstellend anders. Bakkes stel homself bloot in sy weerloosheid, vrees en krankheid.

Hy wys wie hy was in die ou bedeling en hoe hy probeer hand bysit in die nuwe bedeling, wat hy nie gekies het nie. Dis ‘n dapper, aangrypende reis vol humor en deernis.

19. Droomvanger
Exclusive books Afrikaanse Boeke

Droomvanger

Chanette Paul

Sy stoei vir asem … Die mistigheid is klam en koel en dwarrel in vlae teen haar vel. Sy sak weg daarin. Los daarin op. Die mis rol nog digter teen haar aan, begin haar versmoor. Sy asem die digte klamheid hortend in. Nou is dit ook binne-in haar. Sy stoei vir asem … Die droomwip moes haar drome verklaar, maar sy weet steeds nie wat hulle inhou nie. Die runesteen moet haar beskerm, maar die eerste aand op die plaas in die Maluti’s is daar ’n moord. Die antieke manuskrip kan dalk haar toekoms verseker … as sy oorleef.

20. Louis Botha: Krygsman, Generaal, Staatsman
Exclusive books Afrikaanse Boeke

Louis Botha: Krygsman, Generaal, Staatsman

Richard Steyn

Louis Botha was ‘n briljante Boeregeneraal wie se taktiese vernuf en intuïtiewe aanslag vir etlike oorwinnings oor die Britse magte in die Anglo-Boereoorlog gesorg het. Maar dit was sy enigmatiese karakter en vaste oortuiging om te hou by wat hy geglo het reg was, wat hom as ‘n leier van die Boerevolk gevestig het. Richard Steyn gee op meesterlike wyse insae in die lewe van hierdie grootse Suid-Afrikaanse krygsman en staatsman. Hy beskryf verhelderend hoe Botha saam met sy hegte vriend, Jan Smuts, die vier Suid-Afrikaanse kolonies na Uniewording in 1910 gelei het waarna Botha as die eerste eerste minister van die Unie aangewys is. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog was Botha aan die voorpunt van die Suid-Afrikaanse magte se suksesvolle inval van Duits-Suidwes-Afrika. Tog is hy deur talle Afrikaners verkwalik vir sy steun aan Brittanje, en die Afrikaner-rebellie van 1914, waartydens hy teen voormalige makkers moes optree, het sy hart gebreek. Botha se groothartig en vrygewige omgang met mense – van Vereeniging tot Versailles – het hom bo sy tydgenote laat uitstaan.

WEN 1 van 2 Exclusive Books-geskenkbewyse  ter waarde van R500.00 deur in te teken op ons nuusbrief. Klik hier.

No comments:

Post a Comment