Monday, March 28, 2022

AKSIEBELAAIDE PLAASLIKE RILLER WORD UITSTEKEND OORSEE ONTVANG!


 

AKSIEBELAAIDE PLAASLIKE RILLER WORD UITSTEKEND OORSEE ONTVANG!

’n Oënskynlike doodgewone man, met ’n dodelike stel vaardighede, is ’n voortvlugtige in IDEMNITY – ’n spanningsvolle plaaslike riller, wat op internasionale vlak vervaardig is!  

 Dié rolprent wat verlede jaar oorsee bekendgestel is by die Fantasia Internasionale Rolprentfees in Kanada en reeds in die VSA draai, is tydens die tiende jaarlikse kykNET Silwerskermfees aan plaaslike gehore vrygestel en het met tien benoemings weggestap. Dit sal op 13 Mei in plaaslike teaters te sien wees.

 Oorsee het die fliek baie goeie resensies ontvang:

 “Hope pret”. – The New York Times

 “’n Stylvolle riller, vol erotiek en bedrog.” – Los Angeles Times

 “’n Puik aksiebelaaide rolprent, wat ondersteun word deur genoeg spesiale effekte.” – Screen International

 “Travis Taute se debuut-prent beïndruk met vinnige, soomlose aksietonele.” – Veriety

 Die Suid-Afrikaanse bekroonde skrywer, rolprentresensent en dosent, Leon van Nierop, het die film terdeë geniet en die volgende gesê: “Dit is die beste, mees gewaagde en gebalanseerde Suid-Afrikaanse aksierolprent wat nog ooit gemaak is.”

 Travis Taute, die Suid-Afrikaanse draaiboekskrywer en regisseur, maak sy debuut met IDEMNITY wat die verhaal vertel van Theo Abrahams (Jarrid Geduld), ’n voormalige brandweerman wat aan Posttraumatiese stresversteuring (PTSV) ly, wat homself aan drank oorgee omdat hy nie kan teruggaan werk toe nie.

 Theo se wêreld word op sy kop gedraai wanneer sy vrou en joernalis, Angela (Nicole Fortuin), vermoor word en hy die hoof-verdagte is. Dit dwing om hom om van die polisie te vlug, aangesien hy oortuig is dat hy onskuldig is. Maar het iemand bewyse geplant, of het een van sy gewelddadige nagmerries hom iets laat doen wat hy nie moes nie?

 Soos wat die saak ondersoek word deur adjunk-hoof, Alan Shard (Andre Jacobs), en speurder, Rene Williamson (Gail Mabalane), word onthullings gemaak oor sy verlede, wat sy PTSV veroorsaak het, wat met sy vrou gebeur het en ’n regeringsameswering met drastiese gevolge. 

 IDEMNITY is ’n intense en indrukwekkende rolprent, wat van een opwindende aksietoneel na die volgende vloei, terwyl Theo letterlik vir sy lewe veg. Geduld kwyt hom skitterend van sy taak om Theo eg as moontlik te vertolk en sy foute ten toon te stel.

 “Ek wou ’n aksieprent maak en was gelukkig genoeg dat die vervaardigers hierdie visie en idee ondersteun het,” verduidelik Taute. “Dit was egter belangrik dat die hart van die fliek karaktergedrewe moes wees. ’n Storie van ’n man met trauma wie se emosies, tussendeur aksietonele, na die oppervlak gebring word.”

 Of dit nou vegtonele in ’n beknopte huisbak of in ’n verlate fabriek is, kon Taute (mede-skrywer van Nosipho Dumisa se bekroonde Nommer 37 en die Netflix-reeks Blood & Water) dit regkry om kykers se aandag te hou. Aangesien hy ook regte vegtonele bo rekenaarmanupilasie verkies, het hy die span uitgedaag om hulle beste te gee.

 Geduld doen sy eie vegtonele; iets waarvoor hy drie maande opleiding by Vernon Willemse en Grant Powell (Fury Road, Tomb Raider) moes ontvang het, en sy fisiese vertoning het beslis bygedra om sy karakter nog meer interessant te maak.  

 PTSV is een van die kern-elemente van die storie en oor die intense manier waarop dit in dié rolprent ondersoek word, sê die skrywer-regisseur: “Daar is ’n vreeslike stigma verbonde aan geestesgesondheid. Dit word as swakheid beskou. Baie mans is nie in staat om op ’n konstruktiewe  manier oor emosionele en sielkundige gesondheid te praat nie en dit is dié belangrike kwessie wat ek in die film wou aanspreek.”

 INDEMNITY is ’n paranoïese samesweringsriller wat gekomplementeer word deur opwindende aksietonele en Taute se talent as aksieregisseur bevestig. “In Suid-Afrika was daar ’n beperking op die soort films wat ons kan vervaardig. Ons wou iets doen wat met internasionale titels kan vergelyk; iets wat aandui dat ons land die potensiaal het om ’n wye verskeidenheid films te vervaardig. Die proses was ongelooflik, en ek kan nie wag vir die volgende een nie,” sluit Taute af.

 INDEMNITY is deur Gambit Films vervaardig, in samewerking met M-Net Films, Marche Media, Die Nasionale Rolprent- en Videostigting en Die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging.  

 Dit word plaaslik versprei deur Filmfinity Edms (Bpk.) en sal op 13 Mei 2022 in plaaslike bioskope te sien wees.

 Kyk die lokprent hier: https://www.youtube.com/watch?v=kEeirDvFXLw

 SOSIALEMEDIASKAKELS

IDEMNITY

Facebook: https://m.facebook.com/IndemnityFilm

Twitter: @IndemnityFilm

 FILMFINITY

Facebook: https://www.facebook.com/TeamFinityZA/

Twitter: @TeamFinityZA

Instagram: @teamfinityza

 FILMBATES:

 KREDIET: Magnolia Pictures

No comments:

Post a Comment