Friday, July 31, 2020

Afspraak met Moord Jana Marx LAPA uitgewers

Wat is dit met ons mense wat alewig foeter met reg of verkeerd? My verhouding met my man, en al die voriges, het my laat besef dat hierdie konsep meer as een haakplek het. Sodra een party reg is, moet die ander verkeerd wees. Om verkeerd te wees, is al van altyd af, nie reg nie. Wat my na my volgende vraag lei: wat presies is reg, en verkeerd? Is die lewe 'n daaglikse uitdaging om jouself as reg te bewys? Al weet  jy voor jou heilige siel, jy gaan boggerol bereik of wen deur sogenaamd "reg" te wees. Inteendeel ek dink dit is net so lonend as die antieke olimpiese spele se uitkoms, oorwinning of die dood. Zeus het blykbaar hierdie besluit geneem, en wag hiervoor...dit was heeltemal aanvaarbaar om jou opponent dood te maak. Met ander woorde, dit is reg om iemand dood te maak. Hierdie situasie spring dan ook nie die algemene gebruik van ontkenning vry nie. "Zeus het besluit dit is hoe dit gedoen word, ek voer net die opdrag uit". Mooi man! En siedaar, 'n hele familie is sonder hulle broodwinner, alles in die naam van een of ander god, man, pa, familie, vriend of regerende party. Lees gerus Jana Marx se boek Afspraak met moord. Sy het my laat nadink oor my invloed op ander mense. Of eerder, die verantwoordelikheid wat ek het ten opsigte van elke mens met wie ek in aanraking kom. Sosiale distansie gerespekteer. Cecilia Steyn het mense om haar "opgerig" om haar te "beskerm" teen satan en die hekse. Twee van hulle was kinders. Ten minste elf onskuldige mense is vermoor as gevolg van hierdie "beskermingsbevel". Doodgewone, goeie en intelligente mense word moordenaars. Net soos die slagoffers se families, sal hulle lewens ook nooit weer dieselfde kan wees nie. Net een siek vrou. En vyf mense se reg en verkeerd word vir altyd befonkfaai. Ek is oortuig daarvan dat daar hope sielkundige verduidelikings is. Met alle respek, elf mense is hulle lewens kwyt. Marinda, Le Roux, Marcel, John en Zak; wat de dinges het julle gedink? Met die uitsondering van Cecilia Steyn wat heeltemal die kluts kwyt is. Ek sidder by die gedagte dat hierdie mense tussen ons is, free range. Ons regstelsel van so 'n aard is dat hulle met moord kan wegkom. In elk geval, vir heeltemal te lank. As ek dit reg verstaan, word Cecilia in die tronk geboelie, omdat sy nie die hoofmeisie kan wees nie. Sy word kort-kort gesteek en moet dan mediese hulp kry. Ek vermoed dat sy nou in die regte stadion is, vir haar tipe games. Hier kan sy self deelneem aan die items waarvan sy te lank net die skeidsregter was. Ter selfde tyd is 'n ma en pa se dogter vir die res van haar lewe in die tronk. Reg of verkeerd? In my wereld kies ek om eerder gelukkig te wees, en om mense so ver moontlik, gelukkig te maak. Dis nou as hulle gelukkig wil wees. Maar dis 'n storie vir 'n ander dag.


No comments:

Post a Comment