Monday, August 3, 2020

Vuurwarm leesstof vir die winter. LAPA uitgewers

Moet asb nie hierdie plasing vir kinders onder 18 wys nie.
Hier is 'n paar vuurwarm e-boeke van LAPA indien hierdie winter jou verhouding ook 'n bietjie afkoel.

Roekeloos
Hy moet veg vir hulle liefde ...
Ses jaar gelede het Storm skielik uit Zara se lewe verdwyn, sonder rede of ’n verduideliking. Nou is hy terug en het een ding op die brein: Om vir Zara weer terug te wen en finaal syne te maak.

Zara is ’n onafhanklike, standvastige vrou. Behalwe as dit by Storm kom.

 

Vandag is hy die MMA-wêreldkampioen met ’n donker verlede wat sy nie ken nie. Binne die hok is hy ongenaakbaar, sterk, vreesloos, en gevaarlik. Selfs roekeloos. Zara ontmoet ’n nuwe Storm, een wat sy onweerstaanbaar vind.

Passie en liefde breek die mure tussen hulle af en dit lyk tog of dié paartjie kan hoop op ’n gelukkige einde. Maar ’n duisternis hang oor hulle verhouding. Al wat vir Storm oorbly is om te veg vir hulle liefde ... en Zara se lewe.

Roekeloos is slegs beskikbaar as e-boek by LAPA en Amazon.


 

 

Hier is nog lekker leesstof!

 

Perke
’n Onwaarskynlike paartjie beland onder een dak tydens inperking:  Gerbrand boer in die Noord-Kaap, Landi is ’n model wat op internasionale voorblaaie pryk. 

Tussen hulle was daar destyds al meer as bloot vonke, maar nou is albei ouer, meer ervare en meer as gereed om die spel van verleiding en verowering te speel. 

Perke is slegs beskikbaar as e-boek by LAPA en Amazon.

 

 

Agter Grendels

Agter Grendels
Wat tydens die inperking gebeur ...

Emmanuel sal altyd haar kryptonite wees. Hy was eens haar beste vriend, maar hulle het uitmekaar-gedryf ná ’n insident in Stellenbosch.

Nou herken Natasja nie die Emmanuel wat ’n bekende fotograaf in New York is nie. Sy herken nie die man wat sy bed met die een model na die ander deel nie.

 

Wanneer Emmanuel by sy suster, Natasja se huismaat, in Suid-Afrika kom kuier, gryp die noodlot en Covid-19 in: hy en Natasja moet vir ’n maand lank onder dieselfde dak leef. Hulle kan nie langer die verlede en die aantrekkingskrag tussen hulle ignoreer nie. Kan ’n verkeerde besluit in die verlede oorkom word?

Haar ekskêrel sal enigiets doen om haar terug te wen, maar Natasja het haar hart agter slot en grendel geplaas. Sal Emmanuel haar hart kan oopsluit? Net die tyd sal leer. En tydens die inperking is tyd al wat hulle het!

Agter Grendels is beskikbaar as e-boek by LAPA en Amazon.

 

 

Liefde in die tyd van Corona

Liefde in die tyd van Corona
In die tyd van Corona is niks eenvoudig nie ...
Toe die inperking aangekondig word, het Jenna pas haar verloofde en strooimeisie saam in die bed gevang. Sy het verkoue, ’n gebreekte hart en die behoefte om weg te kom van almal se simaptieke kyke. ’n Vriendin bied haar die gebruik van ’n strandhuis op Waenhuiskrans aan wat op die oomblik na die regte medisyne klink.
Vir Jacques is die idee om vir drie weke stoksielalleen te bly die heerlikste vooruitsig.

 

Waarop hy nie voorbereid was nie, was die lang blondine in die sitkamer van sy strandhuis. Dit maak nie saak hoe sexy sy is of hoe lank haar bene is nie, dis sy huis en die meisie moet eenvoudig ’n ander plan maak. Maar in die tyd van die Corona is niks eenvoudig nie.

Liefde in die tyd van Corona is as e-boek beskikbaar by LAPA en Amazon.

 

 

Klaskamer

Klaskamer
In Klaskamer haal Vita die sweep uit, klits die boeie om sekere mense se polse en gee aan dissipline ’n totaal ander betekenis.
Emma Louw kry die geleentheid om as kinderoppasser op 'n Karooplaas te gaan werk vir Daniel Swart. Sy is pas uit ’n langtermynverhouding en is lus vir ’n nuwe uitdaging.
Sy raak gou lief vir die seuntjie, en is ook nie onaangeraak deur Daniel se teenwoordigheid nie.
Alles maak egter nie vir haar sin nie. Steek sy dalk haar kop in 'n byekorf?

 

Hoekom is Daniel so geheimsinnig oor sy verlede en oor die letsel op sy bors? Waar pas die impulsiewe Sally, Daniel se eksvrou in die prentjie? Dan praat ons nie eers oor Irma Rothman nie. Sy is immers Daniel se destydse onderwyseres op skool ...

Op 'n dag kom Emma op 'n geheime kamer af. Dinge oor die geheimsinnige Daniel begin vir Emma duideliker word. Sal sy die binnekant van die klaskamer aandurf? Indien wel, sal sy lewendig anderkant uitkom?

Klaskamer is nou beskikbaar by jou naaste boekwinkel. Die e-boek is ook beskikbaar by LAPA en Amazon.

 

 

Skoolgeld

Skoolgeld
Wanneer Emma Louw ná ’n motorongeluk haar bewussyn in die hospitaal
herwin het sy geen idee wie sy of die aantreklike vreemdeling is wat langs haar bed waak nie. Daniel Swart slaag egter daarin om haar gerus te stel: Sy is au pair vir sy seuntjie Neal en volgens die dokter is haar geheueverlies net tydelik. Emma is geskok wanneer Daniel haar vertel dat hulle ’n liefdesverhouding het hoewel hy getroud is. Hy oortuig haar om saam met hom terug te keer na sy plaas Omdraai.

 

Op die plaas begin Emma geleidelik grepe uit haar kinderdae onthou, maar oor haar volwasse lewe is daar steeds ’n donker sluier getrek.

Emma besef gou dat sy meer as blote fisieke aantrekkingskrag voel vir die man wat haar met soveel geduld en deernis versorg. Die emosionele verbintenis tussen hulle verdiep en omdat Emma hom vertrou, is sy bereid om sy seksuele fantasieë saam met Daniel uit te leef. Maar gaan hierdie ’n duur les wees?

Skoolgeld sal in September beskikbaar wees.

 

 

Seks, leuens en die internet

Seks, leuens en die internet
Seks, leuens en die internet is ’n rou, eerlike vertelling deur ’n vrou wie se hart gebreek is, maar weier om moed op te gee.
Op 50 lyk al die prinse en perde bra gehawend, maar vasbeslote durf sy die wilde wêreld van aanlyn afsprake aan, moedig op soek na haar sielsgenoot. In haar soektog kom sy alles teë – van die armes van gees tot die armes van vlees.  En dit alles te midde van menopouse, skete en plooie.

 

Hierdie boek gaan oor die soeke na die self en die oeroue stryd tussen die brein en die hart. Die vraag is net: Wie gaan dié keer wen? 

Seks, leuens en die internet is nou beskikbaar by jou naaste boekwinkel. Die e-boek is ook beskikbaar by LAPA en Amazon.

No comments:

Post a Comment