😢
Die musiekgroep, ONE VOICE, het gehore uit die staanspoor beïndruk
en oor die afgelope twee jaar vir hulleself ’n stewige aanhang in die
Suid-Afrikaanse musiekmark kom vestig.
Kalinka Kilian, Carla Strauss, Karma Coetzer en
Janke Bester het sedert 2018
aanhangers bederf met hulle indrukwekkende verwerkings van bestaande treffers,
soos Sucker en Secret Love Song, en baie knap oorspronklike snitte, soos Droomplaneet en Wake
Up wat deur Lientjie Sothman geskryf is, wat plaaslik en internasionaal goed presteer het
en steeds op die radio gehoor kan word.
Nie net is hulle musiek deur verskeie radiostasies regoor die land gespeel
nie, maar dit was ook vir verskeie weke nommer een-treffers op Lekker FM en
Hosa Radio, én het vir ’n hele ruk op die treffersparades van stasies soos SFM,
IFM en Bosveld Stereo gepronk.
Aanlyn is hulle liedjies deur 49 lande gestroom; insluitend Suid-Afrika,
VSA, Australië, Mongolië, Namibië, Japan, Meksiko, Denemarke, Filippyne,
Duitsland, Swede, Verenigde Koninkryke, Nieu-Seeland, Brasilië, Ecuador,
Switzerland, Portugal, Indië, Malaysië, Kanada, Suid-Korea en Ierland, waarvan
die meeste stromings plaaslik en in Amerika plaasgevind het.
Verskeie gedrukte- en aanlynmediaplatforms het verder ook oor hulle musiek
berig, waarvan die internasionale platform, Broadway.com een was.
ONE VOICE se energieke optredes, unieke klank en pragtige
verwerkings het van die begin af aanklank gevind by oud en jonk en vir hulle
optredes losgeslaan by verskeie funksies en venues regoor die land.
Maar soos die gesegde lui, kom alle goeie ding op ’n stadium tot ’n einde
en omdat ONE VOICE oorspronklik net as ’n twee jaar projek beplan is en
Covid-19 baie van hulle planne gekniehalter het, het die meisies besluit om vir
eers hierdie suksesvolle hoofstuk van hulle lewens vaarwel te roep.
“ONE VOICE was net ’n korttermynprojek, maar
dit het baie beter gegaan as wat ons verwag het. As vier voltydse studente, het
dit begin moeilik raak om te prioritiseer en moes ons elkeen heroorweeg wat ons
doelwitte is,”
verduidelik die meisies. “As gevolg van grendeltyd kon niks van ons beplande
geleenthede en optredes realiseer nie. Dit het ons so ver teruggesit dat dit
vir ons moeilik was om ’n praktiese manier te sien hoe ons weer verder kon
aangaan.”
“Ons musiek bly op alle digitale
platforms, so wanneer julle aan ons dink is daar altyd ietsie om na toe terug
te gaan. Hou ook ons elkeen se solo-loopbane dop, want hierdie is verseker nie
die einde nie.”
As jy hulle uitvra oor hulle
toekomsplanne, verklap hulle dat hulle studies nou voorkeur kry. “Ek gaan
dinge tree-vir-tree vat en wil fokus op my eie musiek loopbaan terwyl ek my
studies klaarmaak. Ek gaan aanhou om te skryf en liedjies vry te stel, soos wat
ek my vaardighede verbeter,” sê Carla, terwyl Kalinka beaam dat sy ook nog
nie klaar is met musiek nie: “Ek gaan my studies voltooi en wil graag nog ’n
ander kursus of twee doen. Ek gaan voortgaan om te skryf en te sing en het
reeds ’n nuwe liedjie vrygestel, waarvoor ons nou ’n video gaan opneem.”
Beide Karma en Janke wil graag hulle gawes en kwalifikasies, as
arbeidsterapeut en ontwerper, aanwend om ’n verskil te maak in mense se lewens
en beplan om ook steeds hulle musiekdrome lewendig te hou. “Na ek my studies
voltooi het, wil ek graag my gawes en talente te gebruik om ’n impak op ander
mense se lewens te maak,” sê Karma. “My plan is om myself voortdurend in
beide my sang en professionele ontwerploopbaan te verbeter. My lewensdoel is om
’n verskil te maak en dit is iets waarna ek elke dag sal streef,” voeg
Janke by.
Om totsiens te sê is nooit maklik nie, maar ONE VOICE is baie
dankbaar vir die ongelooflike span professionele mense wat hulle
agter-die-skerms gehelp het om hulle drome waar te maak en vir elke aanhanger
wat hulle op hierdie ongelooflike reis ondersteun het.
“Ons wil net baie dankie sê vir ons ouers,
vriende, Starburst Promotions, McCrea Media, Michelle van Naturallymibeauty,
Lientjie Sothman, Ettienne D Lane en almal wat betrokke was se moeite en
ondersteuning. Sonder julle, sou ons nie gekom het tot waar ons het nie,” deel die vier. “Sonder aanhangers en
luisteraars se ondersteuning, sou ons nooit ons verhoogdrome kon waar maak nie
en ons wil julle almal bedank vir ons ongelooflike herinneringe van die
afgelope twee jaar.”
SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/onevoice4/
Instagram: @_one__voice_
Webblad: www.onevoice.co.za
No comments:
Post a Comment