Dit is nou maar een maal ’n feit dat daar ’n tyd
kom in elkeen se lewe waar die rol van ’n kind en ouer omruil en laasgenoemde
die afhanklike word, wat versorging nodig het. Hierdie hartseer realiteit is
die sentrale tema van ’n splinternuwe en baie hartroerende rolprent.
THE FATHER, wat gebaseer
is op ’n bekroonde toneelstuk, begin as ’n doodgewone drama en vertel die
verhaal van ’n middeljarige dogter wat besig is om haar geduld te verloor met
haar pa – ’n stoute, onafhanklike ou man, wat besig is om tred met realiteit te
verloor en weier dat ’n versorger na hom omsien. Sy moet trek en moet daarom
iemand kry om na hom om te sien. Hy, wat in die beginstadium van demensie ly,
probeer sin maak van sy veranderende omstandighede en begin in sy geliefdes,
verstand en realiteit twyfel.
Hierdie rolprent is die bekroonde Franse
draaiboekskrywer, Florian Zeller, se eerste poging as regisseur en hy was ook
verantwoordelik vir die oorspronklike toneelstuk. Hy het die draaiboek saam met
sy kollega en vertaler, Christopher Hampton, geskryf wat klem lê op die feit dat hierdie
nie ’n mediese verhandeling is nie. “Dit gaan nie oor ’n mediese toestand en
die mens wat daaronder ly nie,” verduidelik hy. “THE FATHER
probeer om eerder om op ’n kunstige manier te wys hoe demensie die pasiënt se
geliefdes raak, omdat hulle die uitbarstings moet hanteer.”
Die verhaal word doelbewus vertel deur die oë
van Anthony, die bejaarde pa, wie se lewe ’n bron van nimmereindige
gedisoriënterende verwarring geword het, met die karakters en plekke wat
voortdurend verander en daartoe lei dat die kyker so verward voel soos Anthony.
Dit is disoriënterend en surrealisties, maar dit spreek boekdele oor ’n lewe
met demensie. “Ek wou nie die storie van ’n buite-perspektief vertel nie,
want dit is al soveel keer gedoen,” sê Zeller. “Ek wou die verhaal van
binne af probeer vertel, asof die gehoor in die hoofkarakter se kop is.”
Terwyl Zeller die regie met sensitiwiteit
benader en fokus op noukeurige storievertelling, word die boodskap wat hy wil
oordra ondersteun deur uitsonderlike toneelspel. Anthony Hopkins en Olivia Colman beeld die
demensie-geteisterde man en sy dogter, Anne, meesterlik uit. Colman se
ekspressiewe gesig weerspieël al die emosies wat deur haar karakter gaan,
terwyl Hopkins dit regkry om die vrees, frustrasie en woede van ’n man wat sy
greep op die werklikheid verloor, perfek vas te vang. Soos wat hy die kloof
tussen onafhanklike volwasse en bang kind skets, voeg sy ryk en emosionele
toneelspel elemente van weerloosheid en afgryse by die film.
Hopkins en Colman word verder ondersteun deur ’n
uitstaande groep akteurs, insluitend Mark Gatiss,
Imogen Poots,
Rufus Sewell en Olivia Williams.
Ten
spyte van die donker tema, is die rolprent gebou op empatie en vier dit die
onbreekbare band tussen ouers en kinders.
Oor dié tema, sê Colman: “Dit is angswekkend
om te dink dat die wêreld rondom jou verander en jy op ’n stadium nie meer
hierdie veranderinge gaan verstaan nie. Ek dink die hart van die fliek is baie
eenvoudig. Dit gaan oor liefde en verlies en hoe swaar jy kry wanneer die
persoon vir wie jy lief is nie meer weet wie jy is nie. Dit is pragtig geskryf
en baie emosioneel.”
Sy is reg. THE FATHER is ’n
akkurate en ontstellende vertelling wat beide kante van die situasie onder die
vergrootglas plaas – hoe dit voel om lief te wees vir iemand met demensie en
hoe dit voel om met hierdie toestand saam te leef. Dit wys op ’n hartroerende
manier wat gebeur wanneer ’n verhouding, wat al vir dekades bestaan, skielik
onherroeplik verander.
Die rolprent het onlangs met die gesogte Gehoorgunsteling-toekenning
weggestap by die San Sebastian-rolprentfees, en daar is
reeds sprake daarvan dat Anthony Hopkins ’n Oscar-benoeming gaan ontvang vir Beste
Akteur vir sy uitstaande vertolking van hierdie komplekse karakter.
THE FATHER word plaaslik
versprei deur Filmfinity Edms (Bpk.) en sal vanaf 15 Januarie 2021 in Suid-Afrikaanse bioskope te sien
wees.
Kyk die lokprent hier: https://www.youtube.com/watch?v=4TZb7YfK-JI
PUBLISITEIT
& BEMARKING
Starburst
Promosies
Alishia van
Deventer
Sel: 083 635
4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za
No comments:
Post a Comment