Wednesday, May 5, 2021

Dol Heuning deur SJ Naudé – ’n lesersindruk https://www.litnet.co.za/dol-heuning-deur-sj-naude-n-lesersindruk/

 

Dol Heuning deur SJ Naudé – ’n lesersindruk

  • 0

Titel: Dol Heuning
Skrywer: SJ Naudé
ISBN: 9781415210796
Uitgewer: Umuzi

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Tussen die omslag en buiteblad van Dol heuning is ’n kunsgalery. Dit is hoegenaamd nie ’n fraai uitstalling van die skool se kunsstudente, die blommeskool se rangskikkings of die VLV se voorskote, gehekelde tafeldoeke en teepotmussies nie. Hierdie uitstalling is abstrak, skrikwekkend, uitdagend, bloedstollend – en beeldskoon. Die eerlikheid van die karakters is tasbaar. Net sodra jy dink jy verstaan waarheen hierdie storie lei, breek ’n stofstorm om jou los waarin jy niks kan sien nie, en waarbinne jy uiteraard nie die vaagste benul het van waar jy is nie.

Die kortverhale is elk heilig. Dit raak mens op die diepste vlak moontlik onomkeerbaar aan. Terwyl ek hierdie lesersindruk skryf, voel ek bitter klein, en ek gaan vreeslik versigtig met my woorde om. Daar moet nie geneuk word met hierdie manjifieke kunswerk nie. Die ervaring wat ek beleef het, en steeds beleef, is amper soos ’n radikale bekering. Die kortverhale is geensins aan mekaar verbind nie, maar dit sou verraad wees om een uit te sonder. Dit is ook onmoontlik om op te hou lees as jy eers begin het. As jy gaan weerstand bied, gaan jy beslis verdrink

My ervaring van Dol heuning kan ek die beste met die volgende analogie beskryf. Ek bevind my in ’n galery wat die kunswerke van SJ Naudé ten toon stel, elk op sy eie glaskubus. Dit is dus moontlik om van alle kante daarna te kyk. Veel beter as driedimensioneel. Telkemale het ek myself betrap waar ek van bo af gekyk het. Baie gou het hierdie verhale my verlei om al nader te gaan. Dan nog nader. Eers het ek net my eie weerkaatsing in die glas gesien. Totdat ek met my gesig teenaan die glas geëindig het. Ontnugter besef ek dat ek besig is om na myself te kyk. My mooi maniere, opvoeding, bedagsaamheid, goeie higiëne, keurig-beplande maaltye, “goeie” oordeel en beskeie klassifikasie van “julle”, “hulle” en “ons” word pragtig ten toon gestel, sodat almal die (oppervlakkige) skoonheid kan bewonder. Onverwags raak dit onmoontlik om weg te kyk. Ek sien die boosheid raak, wat fenomenaal gestileer is sodat die skoonheid daarvan jou op ’n magiese manier nader trek totdat jy die monster herken wat inderwaarheid die kunswerk is.

Daar skuil ’n barbaar in elke fyn-opgevoede Eerstewêreldse homo sapiens. Voeg ’n industriële dosis testosteroon en estrogeen hierby, en chaos breek uit. Nie noodwendig in die vorm van gewelddadige opstande nie – meestal woed dit aktief en vernietigend onder die fasade van kalmte en normaliteit. In Dol heuning val die kaarthuise een na die ander. Totdat dit bymekaargeskraap in ’n vullisblik te ruste kom.

SJ Naudé is ’n veelbekroonde skrywer. Dol heuning lees baie makliker as waarvoor ek my gestaal het. Dit is ’n letterkundige lykskouing van menswees: Laag vir laag word jy aan jouself ontbloot. Dit is nie pynloos nie – inteendeel. Maar as jy dit kan regkry om deur te druk, gaan jy hierdie boek meer as een keer lees.

No comments:

Post a Comment