Wednesday, May 5, 2021

Toekomsmens deur Isa Konrad, ’n lesersindruk https://www.litnet.co.za/toekomsmens-deur-isa-konrad-n-leserindruk/

 

Toekomsmens deur Isa Konrad, ’n lesersindruk

  • 0

Titel: Toekomsmens
Skrywer: Isa Konrad
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780639605234

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Met die eerste oogopslag is hierdie boek vreemd-anders.

Met dié dat ek myself hierdie jaar uitgedaag het om nie links en regs te veroordeel nie, het ek nie gedink ek sou my vooropgestelde idees van kunsmatige intelligensie moet konfronteer nie. Wat ’n ontnugtering! Nie net is my woordeskat op die proef gestel nie, maar my sienswyse van slim tegnologie is oor die afgrond van alle waarskynlikheid gedryf.

Dit is maklik om hierdie verhaal oor Kel de Jongh in 2057 en Agnus Baumer in 1944 as wetenskapfiksie te klassifiseer. Vir my was dit ’n vuishou in my maag. Ek is nou nog disnis as ek aan die moontlikheid van ’n robotregering dink.

In 2020 het ons almal in die wêreldwye web beland, hetsy vir vermaak, geselskap of inligting oor die jongste COVID-19-statistieke. WhatsApp, Instagram, Twitter en slimfone is niks vreemd nie. Maar wat is die moontlikheid dat ons onsself gaan oorbodig maak in ’n wêreld van hierdie einste tegnologie?

Isa Konrad het die gawe om met absolute grasie heen en weer deur tyd en plekke te beweeg. Ek het nie agtergekom dat sy my in ’n oorlog in gaan laat lees nie. Aangesien ek ’n sterk aktivis daarteen is in my beperkte klein wêreld, moes ek my idee van oorlog ook evalueer.

Daar is oral bewyse dat die toekoms met kunsmatige intelligensie besaai is. Is ons gereed vir hierdie verandering? Ek weet nie of dit in my leeftyd sal realiseer nie, maar dit is nie te ver weg nie.

Die pandemie het ons gedwing om na kubermoontlikhede te gryp. CD’s word vervang deur geheuestokkies en digitale musiekplatforms. Musica maak al sy musiekwinkels toe.

Hierdie revolusie vergemaklik die lewe in baie opsigte, maar in dieselfde asem is dit ook heel waarskynlik lewensgevaarlik. Ons is dalk te slim vir onsself. Emosies en siele word verruil vir produktiwiteit en geld.

Die sogenaamde merk van die bees is nie so verregaande as wat ons dit sou wou afmaak nie. Dit is dalk nie die yslike 666 op jou voorkop getatoeëer nie. Dalk die selfoon in jou hand? Ek dink nie die vraag is óf dit gaan gebeur nie, maar eerder wanneer.

Hoe gaan ek en jy ons plek in hierdie wêreld van tegnologie regverdig? Is ons dalk oorbodig as gevolg van ons eie genialiteit?

Miskien is Toekomsmens ’n wake-up call. Of is dit wetenskapfiksie?

Ek dink net dit sal heerlik wees om nie skottelgoed te hoef te was of om die skottelgoedwasser te pak nie. Ek is egter nog nie gereed om die reuk van gesnyde gras en die klank van reën op my dak te verloor nie.

Ek sal wel seker maak dat daar iewers ’n sakkie geroosterde koffiebone weggesteek is. Miskien meer. Net vir ingeval.

No comments:

Post a Comment