Wednesday, May 5, 2021

Lesersindruk: Die heelal op my tong deur Anoeschka von Meck https://www.litnet.co.za/lesersindruk-die-heelal-op-my-tong-deur-anoeschka-von-meck/

 

Lesersindruk: Die heelal op my tong deur Anoeschka von Meck

  • 0

Titel: Die heelal op my tong
Skrywer: Anoeschka von Meck
Uitgewer: Penguin
ISBN: 9781485904106

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Daar is al baie gesê en geskryf oor Die heelal op my tong. Ek is ’n leser wat dit bloot nie kan bekostig om nié te lees nie. Een lewe is vir my hopeloos te kort. Daarom lees ek, sodat ek kan gaan en voel waar en wat ek andersins nooit sal beleef in my leeftyd nie.

Die heelal op my tong is my boek van 2021. Nie omdat die wêreld aan die eet en bak gegaan het tydens die wêreldwye inperkings nie, maar omdat dié boek my op reis geneem het. Op my wêreldatlas en na binne.

Wilde Willemien het my met tye laat verstik van die lag, en ander kere het ek sommer hardop gesê-vra “wat-de-hel!”. Sy het my uitgedaag met die ewige vraag: Wat is normaal? Hoe kan enige mens besluit wat normaal of disfunksioneel is? Wat is fiksie en wat biografies? Dit is ’n heerlike legkaart wat net die skrywer kan voltooi. Vir my sal dit altyd ’n raaisel bly. Anoeschka se boek is nie net meesterlik geskryf nie, maar vol geheimenisse wat hier en daar geopenbaar word. Net genoeg sodat ek bly wonder het of dit regtig is.

Het sy wragtig op ’n dwelmdieet gegaan? Het hierdie hardkoppige onafhanklike vrou vir ’n siek manipuleerder (Kandy) geval? Ek ken sulke vroue. Ek is so ’n vrou. Gelukkig is dit net ’n storie.

Of is dit?

Soos wat Willemien se gewig op ’n wipwaentjierit is, klou haar lewe ook holderstebolder vas aan dit wat vir haar lyk na vashouplek. ’n Heerlike dolheid, wat my met elke bladsy ingesluk het. Precious Cargo het my laat dink aan my eie “normale” familie. Almal is dit eens dat ’n sekere oom die oogappel is. Eintlik is dit ’n opinie. ’n Gevoel wat geskep is na aanleiding van afleidings wat ons maak van Oumie se vertellings oor my oom en sy kinders. Hy en sy kinders voel dalk dieselfde as sy oor ons praat. Die waarheid is uniek aan elke mens se persoonlike ervaring en verwysing.

Willemien is op ’n soeke, soos elke ander mens, na haarself. Die verskil is net dat Anoeschka von Meck haar storie geskryf het. My en jou storie is dalk nie soveel anders as Willemien s’n nie. Ons moet net die perfekte outeur kry. En so ’n klein bietjie minder oordeel oor dit wat ek en jy dink in ander se lewens aangaan. Die balk is inderdaad in my oog.

Hoe proe Die heelal op my tong? In kort, na alles, maar daar is vier baie bekende smake wat op verskillende sones op die tong is: soet, suur, sout en bitter. Om en by ’n eeu gelede is ’n vyfde een erken: umami. Wat “lekker” in Japannees is. My interpretasie hiervan: ’n vleissmaak. Iets wat veganiste (met alle respek) in sojabone vind. Vleis neem ’n rukkie langer om te verteer as byvoorbeeld koolhidrate, maar verskaf meer energie vir langer. Die heelal op my tong mag jou dalk uitdaag om na te dink oor jou lewesbeskouing, dit miskien laat heroorweeg, en bevraagteken. Selfs verander.

’n Spreekwoordelike mondvol. Dit is presies wat Die heelal op my tong is. Die tafel is keurig gedek met eksotiese, bekende en volksvreemde en vars nuwe smake. Ek beveel dit nie aan vir lesers met ’n “fyngevoelige konstitusie” nie. Vir die res: Bon appétit!

No comments:

Post a Comment