Toe ek nog kind
was, was een van my grootste irritasies my ma se alewige opdrag dat ek moet
laat weet as ek by die koshuis aankom. Sou ek na tien in die aand nog werk (as
kelnerin) moet ek hulle laat weet. Hierdie rapportering het nooit einde gekry
nie. Inteendeel, ek doen dit met my kinders ook. Die ouers van Sharnelle Hough
en Marna Engelbrecht was heeltemal gerus oor hulle dogters wat veilig by die
koshuis is. Dit is mos ‘n veilige plek wat allerhande risiko’s uitskakel. Maar
as ‘n tiener eers rooi hakskene begin kry, verander alles. En daar is absoluut
niks verkeerd met hierdie toestand nie, dit is heeltemal normaal
Die moeilikheid
begin gewoonlik as die ouers nie gemaklik is met die keuse van hul kind se
vriend of vriedin nie. Daar word so baie raad gegee. Soos: Moenie ‘n bohaai
daaroor maak nie, dit sal vanself doodloop. Los jou kind om te leer wie hulle
is en met wie hulle eendag saam wil oud word. Moenie inmeng in jou kind se
ontwikkeling van sy/haar identiteit nie. Laat jou kind toe om seer te kry, sodat
hulle kan leer die lewe het nie handskoene aan nie. Dit is jou kind se reg om
sy/haar maats te kies.
Dit is alles
goed en wel. Ons kinders word met al meer verantwoordelikhede gebombardeer, en
seks is nie meer die vreeslike taboe wat dit in die 70’s was nie. ‘n Maagd is
‘n rare verskynsel. As jy van my verskil, leef ons beslis nie op dieselfde
planeet nie.
Ongelukkig is
daar doodgewone mense tussen ons wat nie so doodgewoon is, as wat hulle voorkom
nie. Zander Bylsma is een van hierdie mense, en hy het Sharnelle probeer
toespin in sy web van vernietiging. Gelukkig het sy die verhouding gestaak,
maar sy was steeds bitter bang vir hom. Haar laaste poging om van hom ontslae
te raak was egter nie ‘n sukses nie. Sharnelle het haarself probeer beskerm deur
haar beste vriendin, Marna, as ‘n skans te gebruik, sodat sy die nare waarheid
kon versag. Ek is positief oortuig dat Marna hierdie voorstel gemaak het. As
jy dan self nie vir hom sê dat
jy niks meer met hom te doen wil hê
nie, sê vir hom ek
wil julle nie meer saam hê nie.
Of ek sê jou wat; hy
kan met my praat, dan sorter ek hom sommer namens jou uit.
Hierdie
moontlike oplossing vir Sharnelle se Zander-probleem was egter ‘n sneller vir
Zander se wraak. Hy sou enige iets doen om Sharnelle vir homself op tee is.
Daar was egter ‘n klip in die pad, Marna. Hy moes van haar ontslae raak, sodat
hy Sharnelle vir homself kan kry. ‘n Oop koshuisdeur en ‘n selfoonoproep het
hom toegang gegee tot hierdie veilige plek waar die twee vriendinne gebly
het.Hierdie besoek was dodelik en finaal. Hy het Marna uitgewis en Sharnelle
moes gestraf word omdat sy hom verlaat het.
Daar is meer
vrae as antwoorde vir hierdie dogters se ouers en vriende. Baie dinge kon
anders gedoen en gesê word.
Maar dit gaan niks verander aan die verskiklikheid van wat gebeur het nie. Drie
families is onherroeplik geraak. Dood is finaal, en Sharnelle en Marna sal
nooit weer kan aansit vir ‘n ete saam met hul gesinne nie. Zander se ouers moet
daarmee saamleef dat hy twee jong dogters vermoor het. Die gesegde, elke ouer
dink sy mossie is ‘n swaeltjie, is waarder as waar. In elke ouer se lewe is sy
kind volmaak, omdat dit die kind se opvoeding sal beledig as hy/sy nie
so oulik is as wat Mamma en Pappa glo nie. In hierdie saak het daar baie dinge
verkeerd gegaan, en dit sou kon oorwaai as daar nie ‘n Zander was nie. Hierdie
tipe verhoudingsprobleme is ‘n algemene realiteit in die meeste mense se lewe.
Ongelukkig is narsisme, psigopatie en agressie ook ‘n realiteit. ‘n Mens kan
maar net hoop en bid dat jou kind nooit met ‘n Zander te doen gaan kry nie.
Twee grafte en ‘n tronksel, getuig van hierdie gevaarlike en plofbare wereld
waarin ons leef.
Susan Cilliers
het hierdie boek skitterend geskryf. Dit lees soos ‘n heerlike krimmie, maar
die foto’s ruk jou terug na die realiteit. As ek kon sou ek lewensgrootte
baniere oral opsit met net hierdie woorde: Luister na jou gut feeling. Dit
sal jou lewe red!
No comments:
Post a Comment