|   Richter, kaalvoet in ’n japon,
      staar na ’n muur van vlamme. Dit is ’n golwende roesbruin wolk, met kruid
      op sy warm asem. Dit knetter, en dit blaf wanneer dit spoeg. Klein
      vuurpyltjies verskiet deur die lug en plof gloeiend in die stof. Richter
      staan terug. Is dit die begin van ’n ding, of is dit nou dít?  Richter het 'n verlede, maar dis die hede wat hy ontglip. In die
      krake van dinge beweeg hy, systap hy die gesagte en die laspostenare, al
      die bakhand tentakels van die unitêre staat, Uiopa. Toe hy mis trap, moet
      hy vlug. Saam met Margaret reis hy deur 'n nagmerrielandskap 'n bisarre
      avontuur in.
 Neal werk by die Buro Regse Aksie, waar hy
      stories opmaak sodat die staat kan gryp, maar hy wil wegkom. Langs wilde
      weë probeer hy vir homself en sy seun 'n beter lewe koop.
 En vanuit 'n sekuriteitskompleks, tussen die woede en die wyn,
      skree Gehard uit teen die leuens. Niemand hoor hom nie, en self is hy
      doof vir sy wanklinkendheid. Is dit omdat die geskiedenis by hom spook,
      of is dit uit vrees vir die toekoms wat hy voorspel.
 
 Helikopters, duikbote, kindersoldate, ongediertes, mensvreters… Wit
      leuen wemel van onwerklikhede, afdraaipaaie, en verrassings.
   "Dit is ’n waarlik
      verbeeldingryke skrywer. Die teks wemel van kostelike en vindingryke
      segswyses, kleurryke metafore, spraakwyses, en allemanswysheid van fyn
      allooi." - Charl-Pierre Naudé    Oor die skrywer Ruan Kemp is ’n mynbou-analis, met grade
      in die joernalistiek, onderwys, en ingenieurswese. Hy woon op Hermanus
      saam met sy vrou en drie seuns. Hy debuteer in 2019 met Gedeeltelik
      Bewolk. Wit leuen is sy tweede roman.   
   Publikasiedatum: 01 Februarie 2022Prys: R290,00*
 ISBN-13: 9780624092322
 Digitale-uitgawes
 Prys R232,00*
 Epub ISBN: 9780624092322
 * Prys onderhewig aan verandering   ANTWOORD OP HIERDIE E-POS VIR
      ’N RESENSIEKOPIE, ONDERHOUD, UITTREKSEL OF MEER INLIGTING   | 
    
No comments:
Post a Comment