Friday, August 20, 2021

Ons vier Madelein Rust LAPA Uitgewers

 

 

“Rust se woorde wip en byt soos ’n chilli popper. Sy is dodelik wanneer sy haar blik rig op die teelaarde van boosheid en brutaliteit.” – Jonathan Amid, Beeld

Madelein Rust se agtergrond in regte en later ook sielkunde, pas perfek in haar arsenaal wanneer dit by spanningsromans kom. Haar insig in die menslike psige en begrip vir die strafregstelsel gee haar boeke diepte en geloofwaardigheid.
In haar eie lewe word Madelein met kanker gediagnoseer en sy vertel van dié reis in die boek Kanker schmanker! – dalk met ’n lag en ’n traan, maar beslis sonder om jammer te wees vir haarself óf haar lewenslus prys te gee nie. Haar debuut, Die 13de Kaart, was ’n finalis in die ATKV-Woordveertjieprys vir Spanningslektuur in 2014 en haar daaropvolgende titels was almal topverkopers. 

 

25 Trappe na benede

25 TRAPPE NA BENEDE
Wanneer Renée Verster-Roux haar swart gewaad, donker grimering en skarlaken
lipstif aansit, klim sy trap vir trap af na die wêreld van haar alterego. As Lisbé is sy nie meer die swartskaapdogter van die ryk Versters nie, maar ʼn bedrewe knoeier wat haar voordoen as ʼn waarsêer om haar trust fonds aan te vul.

Vir haar is Janine Oosterhuis, ʼn doktersvrou wat oortuig is haar man wil haar vermoor, presies die tipe kliënt wat sy soek: skatryk en paranoïes. Maar die dag toe dié vrou met die groot diamante en bang oë haar huis binnestap, het alles verander.

My naam is Legio

MY NAAM IS LEGIO
Malan & Coetsee Privaat Ondersoeke se hulp word ingeroep om die moordenaar te vind van ’n afskuwelik geskende lyk.
Dit neem doktor Renata Malan, ’n forensiese sielkundige, en haar vennoot en vertroueling, Stefan Coetsee, nie lank om vas te stel ’n reeksmoordenaar het toegeslaan nie. Vir hierdie moordenaar gaan dit egter meer oor die voorafgaande marteling as die slagoffers se dood. Dat hulle sterf, is trouens ’n “ongeluk” en die afgryslike martelmetodes stem ooreen met Middeleeuse tegnieke om demone uit te dryf. Renata worstel ook steeds met die private demone wat haar lewenslank agtervolg ...

 

Doodsengel

DOODSENGEL
Magdalena Bakkes moor vir die derde keer in haar lewe en kies om te vlug, gedring deur die moeras van molestering en geweld wat haar kinderjare gekenmerk het. Niemand behalwe die onbekende vrou wat haar help wegkom, weet van die verkragting nie. En niemand sal weet dat Magdalena haar aanvaller se lewe geneem het nie. Sy sal nooit weer in ’n sel sit nie, al kos dit wát. Is dit ’n vergeldingsdrang wat Magdalena Bakkes laat moor, of die psigologiese nagevolge van haar kinderjare? Hoeveel moorde sal sy nog moet pleeg om die beskadigde kinders by die kinderhuis te beskerm?

Kanker schmanker!

KANKER SCHMANKER!
In hierdie aangrypende boek deel Madelein Rust die intiemste besonderhede van haar reis met borskanker. Dit is ’n brutaal eerlike vertelling wat haar belewenis van die siekte met patos en humor uitbeeld. 

Kanker schmanker! rus borskankerstryders toe met inligting wat nie altyd geredelik beskikbaar is nie en help hul geliefdes om die reis met kanker beter te verstaan. Dit is ʼn boek van hoop en triomf wat die leser hardop laat huil en laat lag. Dis ’n verhaal vir elkeen van ons wat ʼn stryd van enige aard stry.

 

 

Volg ons op sosiale media

Facebook

Twitter

Instagram

 

No comments:

Post a Comment