Thursday, September 23, 2021

https://www.litnet.co.za/soldaat-deur-reynardt-hugo-n-lesersindruk/

 

Soldaat deur Reynardt Hugo, ’n lesersindruk

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Titel: Soldaat
Skrywer: Reynardt Hugo
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796322067

Ons ken Reynardt Hugo waarskynlik beter as dr Tertius van Binnelanders. Ek is nie ’n sepiekyker nie, maar as my ouers by my kuier, dan kyk ek maar saam. Tertius is ’n baie goeie dokter en ’n karakter met sterk morele waardes.

Reynardt was op skool ’n goeie kind en voorbeeldige leerling. Toe maak pornografie, seks, drank en dagga ’n draai in sy lewe. Dit is die geval in talle mense se lewens, maar in die meeste mense se lewe is daar nie ’n gewilde boy band nie.

Die verskriklikheid van dit wat agter die skerms van bekende musikante se vertonings aangaan, is ’n nare realiteit. As jy ’n oop en eerlike blik op hierdie leefstyl wil verstaan, kan jy maar net I am Ozzy, die biografie van Ozzy Osborne, lees.

Ek het al vertonings van sommige van ons plaaslike kunstenaars in ’n paar kuierplekke bygewoon. Ek kon nie glo wat ek daar beleef het nie! Meisies het hulleself op ’n openlike wyse aan hierdie arme (of gelukkige) mans aangebied. Sonder enige onduidelikheid was seks op hierdie spyskaart. Dit is vir my ’n absolute wonderwerk dat Steve nie méér kinders het nie. Dit daar gelaat.

Vir Reynardt, wat gesmag het na persoonlike aanvaarding en goedkeuring, was dit ’n kruitvat. Hy is so eerlik in hierdie boek van hom dat ek soms gewonder het of hy weet dat hy die teiken van die tipiese Afrikana-preutse oordeelgroepie gaan word. Dis nou die tannies en omies wat nog nooit enigiets verkeerd kon doen, of gedoen het nie. Ek vermoed hulle het hul kinders aangeneem as ek hoor hoe hulle te velde trek teen seks. En nog nooit ’n druppel drank oor die lippe gehad het nie. Maar kom Kersfees, dan verdrink hierdie einste tannie haar Kersfeeskoek in die brandewyn. En die omie eet dat dit bars.

Soldaat lees maklik en vinnig. Reynardt ontbloot sy seer en kwaad oor sy “disfunksionele” gesin. Hy doen dit sonder om ’n enkele vinger na enige iemand te wys. Ek is van my kinders se pa geskei, en dit het my ’n kykie gegee op wat hierdie ervaring aan ons kinders kon doen. Of dalk gedoen het.

As jy blaamvry is, tel maar op jou klippe, maar as jy besef ons maak almal gruwelike foute, lees gerus Soldaat.

No comments:

Post a Comment