Friday, January 21, 2022

Ina Bonnette, hoop en geloof in ’n beter môre

 

Titel: Ina. ’n Verhaal van genade en genesing

Skrywer: Ina Bonnette
ISBN: 9780639607559
Uitgewer: Luca

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Ek sal nie weet of jy die nuus volg nie, maar gebeure in die nuus gryp ’n mens so nou en dan (deesdae meer nou as dan) om die keel en wurg al jou idees van ’n ideale samelewing uit jou uit. Jou denke en verstaan van mense word geskud. Dit laat jou met baie vrae. Die meeste het ’n kliniese, onpersoonlike en emosielose korrekte antwoord. Dit verander egter ongelukkig nie die lot van die slagoffers en hul families nie. Môre gaan die lewe weer sy gang, totdat jy weer ’n nuusberig sien wat weer jou gemoed omkrap.

Een van hierdie berigte het gehandel oor die Modimolle Monster en Ina Bonnette. Op 3 Januarie 2012 is Ina wreed aangeval en gemartel deur Johan Kotzé. Asof dit nie verskriklik genoeg was nie, is haar seun, Conrad, wat die familie se stamboom moes voortsit, doodgeskiet deur hierdie man wat op ’n tyd haar eggenoot was.

Ina neem jou op haar lewenspad vol moeilike situasies en ontberinge. Sy sal jou ook innooi om in daardie martelkamer ’n blik te kry van waardeur sy moes gaan. Hierdie toneel is gruwelik, maar sy spaar die leser die besonderhede. Dit wat sy wel deel, was egter nie net onmenslik en ondenkbaar nie, dit was brutaal en haarfyn beplan.

Hoe lewe enige mens “normaal” na so ’n liggaamlike en emosionele skending? Hierdie fyn en pragtige vrou sal vir jou opnuut respek gee vir slagoffers wat wel lewend uit so ’n misdaad kom.

Aanvanklik het ek haar glad nie herken op die omslag van haar boek nie. Haar hare is in skakerings van silwer en donker strepies gekleur, haar grimering subtiel maar pragtig en haar klere is eenvoudig dog stylvol. Ek kon nie glo dat dit dieselfde Ina is wat letterlik vermink is nie. Op die oog af is daar geen teken van iemand wat deur onmenslike trauma en ’n lewensveranderende tragedie is nie. Sy is bloot net te mooi. Nou vra ek myself die vraag: Hoe het sy dit reggekry?

Haar besluit om nie as die slagoffer van die Modimolle Monster bekend te staan nie, is een van haar merkwaardige wilsbesluite. Sy is ’n spreekwoordelike voorbeeld van veerkragtigheid. Ook maak sy geen geheim daarvan dat sy met berading en leiding steeds haar lewe vierkantig in die oë kyk nie. Hier is nie ’n greintjie selfbejammering of melankolie nie. Sy het met die hulp van die Here haar lewe teruggeneem. 

Wat haar boek besonder maak, is die ervarings wat sy van haar ma, pa en dogter bygevoeg het. Dit is so eerlik dat dit nie anders kan as om ’n blou kol op jou hart te los nie.

Dit voel vir my asof slagoffers van misdade herhaaldelik deur dieselfde trauma gesit word tydens die hofsaak. Selfs dit het sy met grasie hanteer.

Die lewe met sy moeilikheid het nie verander vir Ina na haar ontberinge nie. In 2020 is haar pa, Piet, oorlede nadat hy sy heup gebreek het. Dit was deurentyd vir Ina belangrik om na haar ouers om te sien, ondanks haar eie struwelinge en finansiële uitdagings.

Ek raai elke moontlike mens aan om hierdie boek te lees, en as jy klaar is, gee dit asseblief vir nog iemand om te lees. Ons lewe in ’n uitdagende tyd, en daar is al meer mense om ons wat nie goeie bedoelings het nie.

Ina het ’n bydrae van Christiaan Bezuidenhout ingesluit waarin hy meer lig werp op die terme narsis en psigopaat. Dit is lewensbelangrik om die eienskappe van hierdie mense te herken. Hiermee kan Ina meer as een persoon se lewe red. Nog ’n merkwaardige eienskap van haar.

Niks sal ooit weer dieselfde vir haar wees nie. Sy het al vele operasies gehad, en dit is nog nie klaar nie. Haar fisieke pyn is nie verby nie. Maar sy het gekies om dit nie toe te laat om haar te laat ontspoor nie. Uit haar seer en vernedering het sy opgestaan, maar met die skryf van haar boek het sy ook die belangrikheid van openhartigheid raakgesien, en hierdeur kan sy ander help wat ook met ’n seer of stukkende menswees leef. Haar storie lees soos ’n gruverhaal, maar die realiteit daarvan maak dit ’n ontnugtering. Ina het nie teruggedeins vir die wete dat sy vir die soveelste keer haar vreesaanjaendste oomblikke moet herbesoek nie. Nee, sy het besluit om haar storie te deel, sodat joune soveel beter kan wees.

Ina Bonnette, jy sal vir my dié voorbeeld van deursettingsvermoë, moed en geloof wees, totdat ek die dag my kop neerlê. Dankie vir jou onverskrokke waagmoed, hoop en geloof in ’n beter môre.

  • 4

Kommentaar

  • LIZZIE SCHEEPERS

    Dit is 'n boek wat elke huisgesin moet koop. Daar's gebeure wat op ons hedendaagse lewe van toepassing is; talle mense ondervind dit net op ander maniere.

  • Dankie vir die roerende en korrekte opsomming van Ina se boek, ek het dit gelees en ook Ina persoonlik ontmoet, sy is 'n pragvrou, ek was self deur trauma en dit het my werklik moed gegee opnuut.

  • No comments:

    Post a Comment