Friday, April 29, 2022

Die fenomenale Fanie Viljoen!

 

 

 

 

 

"Die mag is een, die mag is alles ..."

Fanie Viljoen is een van LAPA se gewildste en bedrywigste skrywers en ons is baie trots om aan te kondig dat sy jeugroman, Offers vir die vlieë, laas week met die gesogte Scheepersprys vir Jeugliteratuur bekroon is. Die prys word deur die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns toegeken.

 

Die boek het al verskeie toekennings losgeslaan, waaronder die 2019 LAPA Jeugromankompetisie en die 2021 ATKV Woordveertjie in die Selfleeskategorie graad 8-10. Laasgenoemde is natuurlik 'n klinkklare bewys daarvan dat dié uitdagende en grensverskuiwende roman aanklank by jong lesers vind.

 

Suid-Afrikaanse tieners sal kan identifiseer met temas van geweld, verlies van identiteit en boeliegedrag. Dit is beslis ‘n eerste van sy soort in Afrikaanse jeugliteratuur en is ideaal vir die klaskamer. Een van die beoordelaars van die Jeugromankompetisie het die volgende oor dié boek gesê:

 

“Hierdie verhaal is een van die beste wat ek in ’n lang tyd in Afrikaans gelees het.”

 

Die Engelse vertaling, Sacrifice for the flies, word in Oktober vrygestel, en daar word boonop ook aan 'n studiegids vir hierdie roman gewerk.

 

Fanie kuier byna in die Kaap!

 

Fanie is binnekort by die Suid-Afrikaanse Kinderliteratuurfees wat tussen 20 en 22 Mei in Somerset-Wes aangebied word, aan die woord. Toegang is R50 vir volwassenes en kinders onder 12 kuier gratis saam! Vind meer uit by SA Festival of Children’s Literature se Facebook-blad.

Hy gaan na die afloop van die fees in die Kaap kuier. Indien jy graag wil hê dat hy by jou skool 'n draai moet kom maak tussen 23 en 26 Mei, kontak asseblief vir Jaconette by
jvandyk@penguinrandomhouse.co.za.

 

Ander Fanie-nuus ...

 

Fanie het natuurlik verskeie boeke op die rak wat gewild is in laer- en hoërskole en klaskamers, maar ook by die huis. Hier is 'n lekker versameling van sy boeke om van te kus en te keur. Kyk spesiaal uit vir die nuwe titels wat binnekort beskikbaar is.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

No comments:

Post a Comment