Tekenkompetisie en
kinderverhaal deur JK Rowling,
gratis aanlyn in Afrikaans
Vanaf 1 September is ’n Afrikaanse
vertaling van die gratis aanlyn vervolgverhaal, Die Ickabog deur JK
Rowling, beskikbaar. Die webruimte is www.ickabogkompetisie.co.za.
JK Rowling het Die Ickabog meer
as tien jaar gelede geskryf as ’n slaaptydstorie vir haar jonger kinders en het
besluit om hierdie gesinsgunsteling te deel om kinders, ouers en versorgers te
vermaak tydens die bykans wêreldwye inperking weens die koronavirus.
Die eerste drie Engelstalige
hoofstukke is reeds Dinsdag 26 Mei op die amptelike webwerf
(www.theickabog.com) geplaas, daarna het nuwe stukke elke weeksdag tot en met
10 Julie verskyn. Die Ickabog, wat geskryf is om hardop voorgelees te
word, is ’n sprokie wat afspeel in ’n denkbeeldige land. Dit is ’n nuwe verhaal
en hou geen verband met die skrywer se ander werk nie. Die teikengehoor is
kinders tussen 7 en 12, maar die hele gesin sal die storie geniet.
Die Afrikaanse verhaal word ook gratis
aanlyn gepubliseer. Dit sal in November in boekvorm verskyn by LAPA Uitgewers.
Rowling sal al haar tantieme skenk aan projekte om groepe te help wat
benadeel word deur die COVID-19-pandemie – beide in die Verenigde Koninkryk en
internasionaal.
Kinders word genooi om hulle kunswerk
voor te lê aan LAPA – die beste tekeninge sal in die gedrukte boek opgeneem
word.
Besoek www.ickabogkompetisie.co.za.
Soos die verhaal ontvou, word ouers en
voogde aangemoedig om hul kinders se kunswerke te deel. Dit is ’n amptelike
illustrasiekompetisie wat deur LAPA Uitgewers aangebied word. Die beste werke
staan ’n kans om ’n plek in die gepubliseerde boek te kry. JK Rowling sal nie
deel uitmaak van die beoordelingsproses nie.
Deur die hutsmerke #TheIckabog en
#DieIckabog te gebruik, word kinders (of hul ouers/voogde vir kinders jonger as
13) aangemoedig om hul ongelooflike skilderye en tekeninge op
sosialemediaplatforms ten toon te stel.
Meer inligting oor die kompetisie en
die eerste Afrikaanse hoofstukke is vanaf 1 September om 09:00 beskikbaar by www.ickabogkompetisie.co.za.
* * *
Die gedrukte Afrikaanse boek sal
gedurende November 2020 by toonaangewende handelaars, asook direk by LAPA
Uitgewers, beskikbaar wees.
Voornemende klante kan hulle
boekwinkels ondersteun deur solank bestellings te plaas. Verskeie aanlynwinkels
sal die geleentheid skep om die boek vooruit te laat bestel en gewone
boekwinkels sal klante kan adviseer hoe om seker te maak hulle kry die storie
so gou as moontlik in die hande.
Vir meer inligting, kontak LAPA by 012
401 0700 of besoek ons webblad: www.lapa.co.za.
EINDE
No comments:
Post a Comment