Monday, October 11, 2021

Mooier as beeldskoon Psalm 139

 Hierdie is geskryf deur 'n oorlogsmasjien. 'n Man na God se hart. Psalm 139


Ek gaan dit net op my manier oorvertel.

Sjoe, Here. Jy ken my, met 'n diep kennis. Of ek nou sit of staan, Jy weet wat ek dink en doen lank voordat ek dit gaan doen of dink. Jy het besluit waar ek vandaan kom en waarheen ek oppad is, amper soos 'n superspeurder net beter! Al my bewegings is aan Jou bekend. Voordat 'n woord by my mond uitgaan, weet Jy wat ek gaan se. Ek is in jou vasgewerk soos die soom van jean, nie die uitrafel soort nie. Daai wat vir niks lostrek nie. Jou Hand is altyd op my. Dit is eintlik te moeilik om hierdie wonder te verwoord: dis baie, baie groter as wat ek ooit sal kan bergryp. 'n Grend besigheid. Ek kan net mooi nerens wegkruip vir Jou nie. Waar sal ek heengaan? Jy is oral. In my diepste donkerste gedagtes, selfs al is ek stoksiel alleen. Jou gees is altyd by my, en ek word gelei deur Jou. Of ek dit nou wil weet of nie. Nie eers die donker is donker genoeg om weg te kruip nie. In elk geval word die donker lig as gevolg van Jou. Jy het my gemaak, in die fynste detail het Jy my beplan en gevorm. Toe my ma en pa intiem en privaat verkeer het, was Jy daar. Of hulle my beplan het of nie, Jy het my beplan en gemaak. Ek weet ek is 'n wonderwerk, 'n heiligheid wat gestalte gekry het. Oor my het Jy al geskryf, lank voordat ek net 'n bondeltjie selle was. Elkeen van my asemteue is deur Jou beplan. Hierdie idee is te groot vir my. Al kon ek elke sandkorrel op die aarde tel, sou dit baie minder wees as die grafiese detail waarmee Jy my gemaak het. Vas aan die slaap, of helder wakker, ek is altyd by Jou, of ek dit weet of nie. Of ek dit verstaan of nie, selfs of ek dit glo of nie. Dit verander niks aan Jou plan vir my nie. Dit sou net nice gewees het as Jy van die aaklige mense kon ontlsae raak wat my wil te na kom. Ek het 'n weersin in hulle, omdat hulle Jou nie wil ken of erken nie. Maar dit is nou maar hulle saak. Sal Jy my asseblief mooi dophou, sodat my hart en gedagtes jou nie harseer maak nie. Ek wil ook nie mense aanstoot gee nie. Help my asseblief om jou met my lewe te vereer, en om elke mens te respekteer as jou fynbeplande kunswerk. Ek wil hierdie verwondering nooit verloor nie. Nie oor myself nie, en veral nie oor ander nie. Mens, dier en elke molekule van Jou handewerk. Mag dit my elke dag verbaas en verstom.


No comments:

Post a Comment