Wednesday, February 23, 2022

Die Rakkers blaas nuwe lewe in Afrikaanse treffers van weleer

 

 

 

 

21 Februarie 2022
Persverklaring

 

 

Die Rakkers blaas nuwe lewe in Afrikaanse treffers van weleer
 

 

 


“Afrikaans.com is opgewonde om deel te wees van hierdie projek wat vermaak en inspireer in en deur Afrikaans. Moedertaalonderrig is vir ons van groot belang en ons glo dat deur te skep in Afrikaans op ’n wyse waarby die jong generasies kan aanklank vind, ’n groot bydrae lewer in die voortbestaan en bevordering van Afrikaans.”
Milanie Vosloo, Projekbestuurder, Afrikaans.com

 



“Wielie wielie walie …, Saai die waatlemoen …, Hansie Slim berg wou klim …”  en nog vele meer. Die meeste van ons het grootgeword met hierdie en ander bekende liedjies, maar ken ons kinders en hulle kinders dit nog? Hierdie skatkis van eg Afrikaanse musiek?
Om hierdie liedjies vir die nageslagte te bewaar, het vier bekendes in die vermaaklikheidswêreld en die *FAK saamgespan en blaas hulle nou nuwe lewe in bekende en geliefde Afrikaanse treffers.  Hulle noem hulleself Die Rakkers – en al vang hulle nie noodwendig kattekwaad aan nie en is hulle ook nie eintlik stout nie, gaan hulle ons beslis help om na ’n ander wêreld te ontsnap – ’n wêreld waar ’n mens vir ’n oomblik kan vergeet van al die moderne foefies,  gejaagdheid en om in te wees.
*Gaan loer gerus na die oorspronklike liedjies op die
FAK se webtuiste.
 
Enkelsnit: ’n Keurspel van nostalgie
Sê die span: “Die liedjies op die enkelsnit is waarmee ons self grootgeword het en daarom is dit vir ons so belangrik om dit vir ons nageslag te bewaar. Ons hoop dat die musiek wat ons op die enkelsnit vasgevang het almal wat daarna luister sal wegvoer op ’n nostalgiese reis van musiek. Afrikaans is nog lank nie op die RAK nie … Afrikaans: gister, vandag, vir altyd!”

Die enkelsnit word amptelik op Internasionale Moedertaaldag, 21 Februarie 2022, vrygestel. Met Die Rakkers wat die liedjies op professionele wyse vertolk en met die vervaardigers, Vaughan Gardiner en Ferdinand Skead, as deel van die produksiespan, kan ’n mens beslis uitsien na ’n produksie van hoogstaande gehalte. Maak jou dus reg … jy gaan sukkel om nie lustig saam te sing nie en ons kan jou verseker … “Wielie wielie walie” gaan nog lank in jou kop ronddraai …


Ontmoet die span

 

Nadia Beukes: Van musiekteater tot stemwerk tot aktrise en natuurlik aanbieder van die realiteitsreeks Boer soek ’n vrou – hierdie besige ma van twee woelwaters het geen bekendstelling nodig nie.

Hendri Myburgh: Radio-omroeper, akteur en stemkunstenaar asook voormalige TV-aanbieder op onder andere Die Groot Ontbyt – hierdie gesinsman is die trotse pa van twee kinders.

 

Pulane Sekepe-Nel: Radio-omroeper, vervaardiger en TV-aanbieder van onder andere Die Kontrak – hierdie lewenslustige vrou met ’n passie vir dans en musiek leef haar passie vir die uitvoerende kunste op ’n daaglikse basis uit.

Lee Scott:  Sanger en lid van die musiekgroep, Hi-5, asook TV-aanbieder (MK Sêr, Kliphard) – het homself gevestig as solokunstenaar en liedjieskrywer en bestuur sy eie sangskool waar hy self stemafrigting doen.

 

Vaughan Gardiner: Internasionale musiekvervaardiger, komponis, liedjieskrywer, musikant, sanger en akteur – het oor die laaste 13 jaar sy stempel in die musiek- en vermaaklikheidsbedryf afgedruk en is verantwoordelik vir liedjies en musiekverwerkings vir van Suid-Afrika se topkunstenaars. Vaughn was verantwoordelik vir al die musikale en vokale verwerkings, asook die finale meng van die enkelsnit. 

Ferdinand Skead: Liedjieskrywer en vervaardiger van plaaslike musiek. Ferdinand van Skead Produksies het al die stemopnames van die enkelsnit behartig.

 

Luister op ons webtuiste na die enkelsnit

 

 

Baie dankie aan almal wat bygedra het tot die projek.

 

Lees meer oor ons borge hier:
https://www.fak.org.za/musiek/
https://afrikaans.com/
www.coproductions.co.za
https://afriforumteater.co.za/
 

Kopiereg 2021 | Bepalings en Voorwaardes

Ons e-posadres is:
myafrikaans@afrikaans.com

Hersien profiel of Teken uit.

E-pos voorsien deur Afrikaans.com

 

No comments:

Post a Comment