’n Jaar gelede, etlike dae voor harde lockdown ons lewe
kom oorneem het, het ons gesin in ’n nuwe huis ingetrek. Die
suurlemoen-, avo- en perskebome het van die begin af my laat droom van
tuisgemaakte avo-ritz, perskekonfyt en verskeie geregte met suurlemoen.
Om nie eens te praat van tuisgemaakte lemonade of ’n paar druppels in
’n G&T nie. Min het ek besef ons groente- en vrugtetuin sou so
drasties aanteel. Sondae het ons in die tuin begin ploeter en ’n jaar
later spog ons met ’n groentetuin wat meer as een keer per week ons
aandete voorsien. Van swartbessies tot wortels so soet jy wil dit nie
kook nie en rooi-uie wat jou oë laat traan, tot ertjies en bone wat die
verveligste slaaie opkikker. Dit gee my eindelose genot om smiddae in
my tuin te loop en kruie of groente te pluk vir ons volgende ete.
Vandag groei daar meer as 30 groente, vrugte en kruie in ons tuin in Centurion.
Ons wag geduldig vir ons lietsjieboom om te begin dra (dit gaan vyf
jaar vat!). Soggens loop Leah, ons vyfjarige, en gaan haal eiers uit
ons hoenderhok. Elke niggie en maatjie moet eers deur ons groentetuin
stap en van die swartbessies of pronkertjies proe. “Daai is pampoene,
maar hulle moet nog groter word,” sal sy vir kuiergaste vertel. En vra
ek vir kruisement, weet sy presies waarvan ek praat en gaan pluk sommer
’n hand vol. Katryn, wat onlangs drie jaar oud geword het, ploeter al
agter my en ons tuinwerker, Solomon, aan. Sy raak skoon opgewonde
wanneer sy hoor Solomon kom môre, want sy weet dan kan sy saam
tuinmaak. “Solomon, ek en mamma het ’n sonneblom geplant. Kyk, hy’s
langer as ek,” sê sy verlede naweek en wys trots na die plant. Dan wys
hy haar geduldig hoe om aartappels uit te grawe voor sy verder aan haar
modderkoekies bou. Ure lank ploeter ons twee dogtertjies om ons, grou
erdwurms vir die hoenders uit en raak opgewonde wanneer ’n nuwe pampoen
begin vorm. En saans is ons gedaan, maar ons smul. Leah eet nou selfs
spinasie. “Mamma, dis omdat ons dit self geplant het,” sal sy sê.
|
No comments:
Post a Comment