Friday, March 5, 2021

Brandmerk 'n Roman Christelle van Rooyen-Wessels

 


Hoeveel keer het jy iemand al hoor sê,”ter wille van die kinders”? Is dit werklik in die kind se beste belang om in ‘n toksiese verhouding te bly? Die meeste van hierdie verhoudings verbrokkel in elk geval, hetsy tragies, of die mishandelde persoon neem maar verlief met sy/haar “lot”. Hoe dit ookal sy, dood is onvermydelik, fisies of emosioneel. Christelle van Rooyen-Wessels het hierdie werklikheid tromop geloop in haar roman, Brandmerk.

 Binne die eerste hoofstuk word die identiteit van die moordenaar bekend gemaak. Hy is die produk van ‘n tipiese lewensgevaarlike verhouding. Sy pa eindig in die tronk op, en sy ma vind nuwe liefde. Soos baie ma’s is sy stok blind vir haar kind se afwykings, en aanvaar sy geen verwysing daarna nie. Dit word bloot met verskonings en verduidelikings onder die mat ingevee. Terwyl haar nuwe lewe op dreef is, vind haar seun David ook die rede vir sy bestaan. Hy gaan heel gemaklik en suksesvol voort met sy moordadige en sadistieste lewe. Reg onder almal se neuse. 

Baie van ons het al effe toondoof geraak ten opsigste van geweld en moord. Dit neem daagliks toe, en dit kos die land miljarde aan mediese behandeling, bewusmaking en terapie. Dit is asof hierdie kwessie gat oor kop benader word. Die realiteit word oral verkondig, maar die rede of oorsprong van die tendens word geheel en al vermy, of met opset geïgnoreer.

 Hierdie is glad nie ‘n biologie les of klas nie maar daar is tog waarde in die ontwikkeling van die menslike brein ten opsigte van geweld. Die frontale korteks van die menslike brein is ‘n “late bloomer”. Hierdie deel van die brein kom eers mooi op dreef as ‘n mens die ouderdom van 25 bereik. 

Wat het dit enigsins met misdaad en geweld te doen? In Suid Afrika is jy reeds geregtig daarop om te stem indien jy 18 of ouer is. Jy kan selfs wettig rook en alkohol gebruik op die ouderdom. Indien jy 16 of ouer is, is dit heeltemal in orde om seksueel aktief te wees. 

Hoekom bevraagteken ek hierdie wetlike vryheid van ons mense, en wat op dees aarde het dit te doen met Christelle se boek? 

Die brein is uiters kompleks, met biljoene selle, of nerone, wat in sinergie met mekaar werk. Die frontale korteks is verantwoordelik vir jou vermoë om ander se gevoelens te verstaan, en hoe om daarop te reageer. Dit is waar jou persoonlikheid vorm en ontwikkel. Ook is hierdie deel van jou bein ‘n dopamien, die chemiese goedvoel hormoon, vraat. Dopamien help om jou gevoelens, erkenning en motivering in toom te hou. Plaas enige kind in ‘n geweldadige huishouding, wat hom/haar voor die ouderdom van 25 gaan uitspoeg, en jy het die perfekte profiel van ‘n geweldsmisdadiger. Hiermee sê ek glad nie dat alle kinders wat uit mishandeling en geweldadige huise kom, misdadigers is nie. Inteendeel. Waarom word daar so baie gepraat en bewusgemaak en geveldtog, en niks word regtig daaraan gedoen nie. 

Ons is almal op een of ander wyse ‘n slagoffer van die lewe, en ons herkoms gaan beslis ‘n rol speel in wie en wat ons is. Die nare waarheid is, dat dit altyd ‘n keuse is. Wat gemaak as jy nie van anders en beter weet nie? Moord en geweld is dalk die enigste dopamien ‘fix”. Hoe kan ons hierdie woede en magteloosheid aanspreek, sonder om dit te stimuleer? 

Waarom is daar nie vakke in ons primere onderwys, soos konflikhantering, respek, persoonlik en ten opsigte van ander lewens, en emosionele higiëne nie? 

Daar is heeltemal te veel David’s in die wêreld. Die hartseer is dat dit anders kan wees deur net ‘n paar klein dingetjies in plek te stel. Ek is nie ongevoelig teenoor die slagoffers en hul families nie, inteendeel, ek is bitter ontsteld dat dit enigsins plaasvind. Maar ek voel dat daar net pleistertjies op swere geplak word. Die wonde word nie deeglik ontsmet, en behandel nie. Dan raak ek nie eens aan die belangrikheid van deurlopende nasorg nie. Ons lewe heeltemal te bo-langs, en selfgesentreerd. En sodra hierdie naarheid aan jou deur kom klop, moet hemel en aarde versit word. Dan is dit ongelukkig te laat vir die slagoffer sowel as vir die misdadiger. 

Jy mag, Brandmerk geheel en al anders interpreteer. Dit is die wonderlike skoonheid en vermoë van boeke. Elke leser het die vryheid om die boek deur sy eie oë te lees. Ek sê maar net… Wel gedaan Christelle van Rooyen-Wessels.

1 comment:

  1. Baie dankie vir dié plasing. Ek waardeer dit. En ja, mense sal moeilik glo hoeveel werklike 'Davids' so tussen ons leef.

    ReplyDelete