Daar is al baie
gesê en geskryf oor Die Heelal Op My Tong. Ek is ‘n leser wat dit bloot net nie
kan bekostig om nie te lees nie. Een lewe is vir my hopeloos te kort. Daarom
lees ek, sodat ek kan gaan, en voel, wat en waar ek andersins nooit sal beleef
in my leeftyd nie.
Die Heelal op
My Tong is my boek van 2020. Nie omdat die wereld aan die eet en bak gegaan het
tydens die wereldwye inperking nie, maar omdat diè boek my op reis geneem het. Op my
wereldatlas en na binne.
Wilde Willemien
het my met tye laat verstik van die lag, en ander kere het ek sommer hardop
gevra, “wat-de-hel!” Sy het my uitgedaag met die ewige vraag; wat is normaal?
Hoe kan enige mens besluit wat normaal of disfunksioneel is? Wat is fiksie en
biografies? Dit is ‘n heerlike legkaart wat net die skrywer kan voltooi. Vir my
sal dit altyd ‘n raaisel bly. Daarom is Anoeschka se boek nie net meesterlik
geskryf nie, maar vol geheimenisse wat hier en daar geopenbaar word. Net genoeg
sodat ek bly wonder het of dit regtig is.
Het sy wragtig
op ‘n dwelm dieët gegaan? Het hierdie hardkoppige onafhanklike vrou vir ‘n siek
manupileerder (Kandy) geval? Ek ken sulke vroue. Ek is so ‘n vrou. Gelukkig is
dit net ‘n storie. Is dit?
Soos wat
Wildemien se gewig op ‘n wipwaantjierit is, klou haar lewe ook holderstebolder
vas aan dit wat vir haar lyk na vashouplek. ‘n Heerlike dolheid, wat my met
elke bladsy ingelsuk het. Precious Cargo, het my laat dink aan my eie “normale”
familie” Almal is dit eens dat ‘n sekere oom die oogappel is. Eintlik is dit ‘n
opinie. ‘n Gevoel wat geskep is na aanleiding van afleidings wat ons maak van
Oumie se vertellings oor my oom en sy kinders. Hy en sy kinders voel dalk
dieselfde as sy oor ons praat. Die waarheid is uniek aan elke mens se persoonlike
ervaring en verwysing .
Willemien is op
‘n soeke, soos elke ander mens, na haarself. Die verskil is net dat Anoeschka
von Meck haar storie geskryf het. My en jou storie is dalk nie soveel anders as
Willmein sin nie. Ons moet net die perfekte outeur kry. En so klein bietjie
minder veroordeel oor dit wat, ek en jy dink, in ander se lewens aangaan. Die
balk is inderdaad in my oog.
Hoe proe Die
Heelal op my Tong? In kort, na alles, maar daar is vier baie bekende smake wat
op verskillende sones op die tong is, soet, suur, sout en bitter. Om en by ‘n
eeu gelede is ‘n vyfde smaak erken. Umami. Wat “lekker” in Japanees is. Volgens
Wikipedia “dui die umami smaak op die teenwoordigheid van die aminosuur
L-glutamaat, en veroorsaak ‘n aangename reaksie en moedig die inname van
eptiede en proteïene aan.” My interpretasie hiervan: ‘n Vleissmaak. Iets wat
veganiste (met alle respek) in sojabone vind. Vleis neem ‘n rukkie langer om te
verteer as byvoorbeeld koolhidrate, maar verskaf meer energie vir langer.Die
Heelal Op My Tong mag jou dalk uitdaag om na te dink oor jou lewesbeskouing,
dit miskien heroorweeg, en bevraagteken. Selfs verander.
‘n
Spreekwoordelike mondvol. Dit is presies wat Die Heelal Op My Tong is. Die
tafel is keurig gedek met eksotiese, bekende, volksvreemde en vars nuwe
smake. Ek beveel dit nie aan vir lesers met ‘n “fyngevoelige konstitusie” nie,
vir die res. Bon appetite!
No comments:
Post a Comment