Sophia
Kapp het op 40 begin skryf – toe sy die lewe se oppe en affe beter leer
verstaan het. Sy het haar tot dusver toegespits op vrouefiksie omdat
dit die genre is wat sy self graag lees, maar sy het nog altyd probeer
om die verhoudings waarin haar karakters
hulle bevind lewensgetrou te hou. Die liefde is nie net lekker of maklik
nie, en haar heldinne is nog altyd vroue wat verstaan het dat die lewe
soms meer uit ’n vrou tap as wat sy het om te gee.
|
|
|
KANAÄN
Sy is ’n rykmansdogter uit die Engelse elite in Johannesburg; hy is ’n
eenvoudige Afrikanerboer uit die Vrystaat. Hulle moes nooit eers
ontmoet het nie, maar wanneer Catherine se lewe in duie stort en sy
alles verloor wat sy geken het, is Chrisjan daar om vir haar ’n
heenkome te bied. Op Kanaän word sy gekonfronteer met die wreedheid van
die natuur, die vooroordeel van die Afrikanergemeenskap en die
onverdraagsaamheid van mense wat anders dink as sy.
|
|
|
HUIS VAN
DIE WIND
Die afgrond tussen hulle is so onoorbrugbaar soos die Drakensberg se
donkerblou klowe: sy is Boere-adel, een van die stoere Jordaans; hy is
die Portugese kafeebaas se seun. Haar loopbaan het haar buiteland toe
geneem, sy hart lê hier in Afrika. Maar dis eers toe sy die donker,
wrede geheim ontdek wat op KwaMoyeni gehuisves word, dat sy besef: daar
is ’n prys om te betaal, en sy is eintlik daarheen gebring om die
rekening te vereffen.
|
|
|
DIE TUISKOMS
Liz Aucamp het tien jaar gelede haar geboortedorp as banneling verlaat.
Vandag is sy ’n onkoloog wat op die drumpel van ’n briljante akademiese
loopbaan staan, maar omstandighede dwing haar terug Groblersdorp toe.
Algaande besef Liz dat Groblersdorp haar nodig het, miskien nog nodiger
as al die pasiënte in Johannesburg se goed-toegeruste hospitaal, en dat
daar vir haar ’n plek in die gemeenskap oopgegaan het wat net sy sal
kan volstaan.
|
|
|
DIE
OOREENKOMS
Adam Rossouw, suksesvolle sakeman, deel van Kaapstad se sosiale elite
en Petronel Cilliers, ’n onopvallende sanger in ’n grot van ’n kroeg
iewers op die Kaapse suidkus, is pole van mekaar verwyder. Maar na ’n
nag van passie is hulle onherroeplik aan mekaar verbind. Gaan die houe
wat die lewe uitgedeel het hulle in die jaar wat hulle saam is
heeltemal uitmekaar dryf, of kan hulle juis in mekaar die maat vind wat
hulle volledig mens sal maak?
|
|
|
|
KANTELPUNT
Nellie van der Merwe het nog altyd die een ding gedoen wat ’n
konvensionele, middeljarige, wit, Afrikaanse vrou veronderstel was om
te doen – sy het stilgebly. Dan word sy 50 en haar wêreld kantel – ’n
histerektomie sny haar los van die ding wat fisiologies van haar ’n
vrou gemaak het, en skielik maak dit nie meer sin nie. Stelselmatig
begin sy vir die wêreld sê dat sy nie meer bereid is om almal se
goedkeuring en aanvaarding met stilbly te verdien nie, en sy vind uit
watter verskriklike prys ’n vrou betaal wat haar eie menswees wil
definieer. Maar die woorde bring ook verligting, en dit bring nuwe
rigting.
|
|
|
Volg ons op sosiale
media
|
|
|
|
|
No comments:
Post a Comment