Sou dit nie maak makliker gewees het vir my mense as ek nie hier was nie? Ek is alweer siek, nadat ons in Pretoria by die pragtigste klein wonderwerkie gaan kuier het. Emily is ons 4de kleinkind en sy is die eerste enetjie wat ons al kon vashou en dom kinderliedjies voor kon sing. Ek het iets van myself geleer in hierdie kleine mensie. Ek was dalk 'n patetiese stiefma, maar die vet weet, ek is 'n flippen goeie Ouma. Noudat ons terug is hier in die mooiste plek op aarde, het my lyf alweer ingegee. Wat ek het is soos gewoonlik 'n raaisel. Ek voel verskriklik en ek lyk ook nie veel beter nie. My stem is weg. Die geluk by hierdie ongeluk is dat ek nie die heeldag kan kla nie. Wat my egter wel pla is die feit dat my dierbare man elke dag na werk by ons huis opdaag amper soos besoektyd in 'n hospitaal. Hy dra kos aan, probeer uitmaak hoe my dag was, en hy probeer om my vrae te beantwoord, dit wat hy dink ek vra oor sy dolle dag. Ons kyk dalk 'n program op TV saam en laat ons vermaak deur ons nuutste stoorkat wat eintlik een van die kinders sin is. As ek my man was, was ek al lankal gatvol vir hierdie vervelige roetine. Ek is alewig siek. As dit nie die een ding is nie is dit die volgende. Dit ontstel my ma en pa as hulle bel en hoor ek is alweer, of eerder steeds ongesond. Ek moet erken ek was vir baie lank sonder ernstige kwale. Die Lockdown was goed vir my. Vir die afgelope ses maande van isolasie was ek sonder enige blootstelling, en sonder ipekonders. Ek was baie bang om hierdie veilige plekkie van my te verlaat, maar 'n mens moet darm besef jou kleinkind word net een keer in 'n leeftyd toegewy aan Jesus. Dit is 'n belangrike dag in haar lewe. Haar mamma en Pappa sin ook.
Ek wil glad nie he dat dit oor my moet gaan nie. Ek wil 'n lekker maat en vrou wees vir my man. Ek wil 'n betrokke ma wees vir my kinders, en ek wil 'n inspirasie wees vir my ouers. Eintlik is ek ok met die hele situasie. Ek kry myself vir niks langer as 'n dag jammer, en dan begin ek weer al die mooi om my raaksien. En daar is genoeg om vir ewig te hou. Ek lag maklik en baie. Ek lees op Face Book van 'n persoon wat oordrewe positief of dankbaar is, en dat dit haar meganisme is om agter negatiewe ervarings te skuil. Ek verkies dit om nie te stry oor goed waarvan ek niks weet nie. Persoonlik dink ek dit is beter om vals dankbaar te wees as negatief in enige vorm.
Goed wat maklik en natuurlik gebeur in ons daaglikse lewe is dalk nie so maklik en natuurlik vir die "valse dankbare mens" nie. Ek weet dat dit soms 'n groot oorwinning is om self te kan stort en klere aan my lyf te kry sonder om my man te pla daarvoor nie. Ek drink dalk eerder 'n glas water as 'n koppie tee, omdat ek nie die ketel by die kraan kan kry nie. My hare is in 'n ponie, omdat ek nie my hare kon droogblaas en die borsel kon gebruik om dit mooi te stileer nie. Ek mag dalk sonder grimering wees omdat ek al my beskikbare oemf opgebruik het om my skoene aan te trek.
Miskien moet Mev Opreg Dankbaar dalk 'n paar draaie gaan loop in Mev Vals Dankbaar se skoene, sodat sy kan uitvind of dankbaar enigsins deel van hierdie ervaring is...
Die lewe het wragtig nie handskoene aan nie, en as hy vir jou klap, sal jy op jou agterstewe agterkom waarvan ek praat.
No comments:
Post a Comment