Tuesday, March 8, 2022

WOORDSOORTE: praktiese hulpmiddels vir die Afrikaansklaskamer

 

View this email in your browser

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans wil uit hul nate bars. Ons kondig met groot vreugde aan dat ons vroeg in Maart ’n reeks hulpbronne oor woordsoorte vir Afrikaansonderwysers, -leerders en hul ouers beskikbaar gaan stel.
 

 

 



Al die eerste klomp hulpbronne wat onder die afdeling Taalonderrigportaal op VivA se webblad gaan verskyn, is niebetaalprodukte. Dit beteken dat hulle gratis is. Ons bied dit gratis aan, aangesien VivA se standpunt is dat kennisverkryging gratis behoort te wees. Hierdie niebetaalprodukte sluit in:

  • ’n video getiteld Inleiding tot woordsoorte waarin woordsoorte op ’n lewenswerklike, visuele wyse met geur en kleur in die Afrikaansklaskamer bekendgestel kan word.

 

 

Hierdie video (net soos die ander video’s wat VivA oor woordsoorte gaan beskikbaar stel) kombineer klank- en skrifbeeld. Hierdeur probeer VivA om die inhoud ook toeganklik te maak vir diegene met sig- en gehoorgestremdhede sodat hulle ook net soos hul siende en horende eweknieë dieselfde inhoud kan bemeester. Inklusiwiteit is vir VivA van kardinale belang.

  • ’n A0-plakkaat met ’n uiteensetting van die verskillende Afrikaanse woordsoorte én die subkategorieë (of soorte) waarin hulle verdeel word, elkeen toegelig met voorbeeldwoorde;
  • ’n A0-plakkaat met die definisie van elke woordsoort – ook geïllustreer met voorbeelde;
  • Daar is ook 11 uitdeelstukke wat die kerninligting van elkeen van die woordsoorte opsom – iets wat uitgedruk en in leerders se boeke geplak sou kon word.

Hierdie uitdeelstukke is van so ’n hoë gehalte op die web gepubliseer dat dit uitgedruk en as “plakkate” in klaskamers gebruik sou kon word. Binnekort laai ons nóg gratis hulpbronne op. Sorg daarom dat jy gereeld ’n draai gaan maak op Taalonderrigportaal.

Binnekort laai ons nóg gratis hulpbronne op. Sorg daarom dat jy gereeld ’n draai gaan maak op Taalonderrigportaal.
 

 

 


VivA is ook tans besig om video’s saam te stel met aanbiedings oor elke woordsoort. Dit gaan later vanjaar op Taalonderrigportaal beskikbaar wees. Omdat hierdie aanbiedings daarop gerig is om die onderwyser se lading ten opsigte van voorbereidingstyd te verminder, sal dit betaalprodukte wees. Onderwysers sal dus hierdie video's as deel van hul klasaanbiedings kan gebruik.
 

 

 


Hierdie praktiese hulpmiddels word beskikbaar gestel op VivA se webblad onder Taalonderrigportaal (ook bekend as TOP). Om toegang te kry moet jy eers (gratis!) registreer.
 

 

 


’n Skakel na die hulpmiddels gaan ook op VivA se kraakvars Facebookblad, naamlik Taalonderwysersforum geplaas word. Ja, jy het reg gehoor – ’n Facebookblad spesifiek geskep vir dosente van Onderwysafrikaans, voornemende Afrikaansonderwysers en praktiserende Afrikaansonderwysers (insluitend tuisonderwysers). Dit is ’n platform waar ons wenke oor elke woordsoort (en later ook oor klankleer, sinsbou, woordbou en betekenisleer) gaan gee, omstrede kwessies ten opsigte van grammatika (taalstrukture en -konvensies) gaan bespreek, meningsopnames gaan hou en skakels gaan plaas na splinternuwe hulpmiddels (soos plakkate, video’s, werkkaarte, ens.) en blogs wat op Taalonderrigportaal beskikbaar gestel word.
 

 

 

 


Waarom het VivA hierdie aanbod?
Die inhoud wat in ons onderrighulpmiddels vervat word, verskil van bestaande woordsoortinligting in skoolhandboeke, aangesien dit deur ’n hele pyplyn van ontwikkeling gegaan het. Eers het taalkundiges en navorsers van internasionale statuur in Engels geskryf oor die patrone van Afrikaans en hulle bevindinge vergelyk met nabyverwante tale, naamlik Fries en Nederlands. Hierna word dié inligting gebruik om ’n Algemene Afrikaanse Grammatika (ook bekend as AAG) te skryf wat spesifiek op universiteitstudente en -dosente afgestem is. Dié Algemene Afrikaanse Grammatika word deurlopend op VivA se Taalonderrigportaal bygewerk. AAG word dan weer aangepas vir gebruik deur Afrikaans Huistaal-onderwysers in die VOO-fase. Hierdie Afrikaanse skoolgrammatika – VivA se ASG – word as vertrekpunt gebruik om plakkate, video’s en uitdeelstukke in ’n maklik verstaanbare vorm vir voornemende Afrikaansonderwysers, praktiserende Afrikaansonderwysers, -leerders en hul ouers aan te bied. Die inligting wat deur middel van ons hulpmiddels weergegee word, is dus geverifieer, betroubaar en belyn met internasionale navorsing. Die inhoud oor die Afrikaansgrammatika (taalstrukture en -konvensies) wat kinders op skool leer, moet immers ooreenstem met dít wat internasionale taalkundiges oor die Afrikaansgrammatika sê. Op hierdie wyse berei ons ook studente voor wat ’n loopbaan in taalkunde wil volg en graag Afrikaans as ’n universiteitsmodule wil kies.

Onderwysers, leerders en selfs ouers van leerders wat nie gereeld tot internet toegang het nie, kan die hulpmiddels eenmalig gratis aflaai en uitdruk. Die ideaal is dat die inligting deur soveel moontlik lede van die Afrikaansonderwysgemeenskap bekom en tydens onderrig en leer gebruik word, sodat die konsekwente onderrig van grammatika (taalstrukture en -konvensies) verseker word.
 

 

 


Aanvullend tot VivA se algemene, reeds gevestigde adviesdiens wat gebruik kan word om navraag te doen oor algemene taalgebruik, bied ons vanaf Maart ’n kanaal waar dosente van Onderwysafrikaans, voornemende Afrikaansonderwysers, praktiserende Afrikaansonderwysers, -leerders en hul ouers navrae oor woordsoorte (maar ook ander fasette van taalstrukture en -konvensies) aan ervare taalkundiges kan rig. Hierdie nuwe diens fokus daarop om leerders te help om die doelwitte te bereik wat Afrikaans as skoolvak stel en om knellende probleme wat uit universiteitswerk voortspruit, op te los.

As jy byvoorbeeld wonder of “lag” in “Ek hou van lag” ’n werkwoord of naamwoord is, stuur jou navraag aan die Taalonderrigadviesdiens, beskikbaar op Taalonderrigportaal.
 

Twitter

Facebook

Website

LinkedIn

 

 

 

Ons e-posadres is:
navraag@viva-afrikaans.org






This email was sent to bekkieburger777@gmail.com
why did I get this?    unsubscribe from this list    update subscription preferences
VivA · Cnr Surrey and Dover street · Randburg · Johannesburg, Gauteng 8000 · South Africa

No comments:

Post a Comment